Nuus 06:00
BULLETIN 18 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Fannie Masemola sê misdaadsindikate het die SAPD geïnfiltreer
# Solidariteit waarsku teen die uitbreiding van toegang tot aftree-spaargeld
# En Donald Trump se top-teenterrorismebeampte het bedank
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, het bevestig dat misdaadsindikate die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander takke van die staat geïnfiltreer het. Hy het gister voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn vir sy slotgetuienis. Die komitee ondersoek beweerde korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel. Masemola het kommer uitgespreek oor die Politieke Moorde-taakspan wat sake hanteer wat tipies verband hou met ondersoeke na georganiseerde misdaad:
# Die vakbond Solidariteit sê voorstelle om verdere toegang tot aftreespaargeld onder die tweepotstelsel toe te laat, sal langtermyn- finansiële sekuriteit verswak. Die vakbond waarsku dat bykomende onttrekkings tydens finansiële probleme die risiko van armoede vir bejaardes verhoog. Marius Croucamp van Solidariteit dring daarop aan die regering moet fokus op die vermindering van lewenskoste, die skep van werksgeleenthede en om hulp aan kwesbare huishoudings te verleen in plaas daarvan om die stelsel te verander:
# Die Staatsdienspensioenfonds het ‘n pensioenverhoging van 3,5-persent aangekondig wat volgende maand in werking tree. Dit stem ooreen met die jongste inflasiekoers asook met inflasie vir die 12 maande wat in November verlede jaar geëindig het. Pensioenarisse wat voor April verlede jaar afgetree het, sal die volle verhoging ontvang, terwyl diegene wat later afgetree het, ‘n kleiner, proporsionele aanpassing sal kry gebaseer op die tydperk wat hulle die pensioen ontvang het. Die fonds sê hierdie benadering verseker regverdigheid terwyl die fonds se langtermynbestendigheid gehandhaaf word.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste berig die ontsnapte oortreder Thulani Gcaleka is gister in Gauteng in hegtenis geneem. Gcaleka was op vrye voet sedert hy op 5 Februarie uit die Sevontein Korrektiewe Sentrum in KwaZulu-Natal ontsnap het. Hy dien ‘n lewenslange vonnis uit vir ernstige misdade, insluitend verkragting, poging tot moord en roof. Die woordvoerder van Korrektiewe Dienste, Singabakho Nxumalo, sê tugstappe is aan die gang teen enige personeellid wat nalatig bevind word:
# Die direkteur van die Verenigde State se Nasionale Teenterrorismesentrum, Joseph Kent, het bedank weens die VSA-Israel-oorlog in Iran. Sy bedanking is die eerste hoëprofiel-amptenaar in president Donald Trump se tweede termyn wat oor ‘n belangrike beleidskwessie vertrek. Kent, ‘n Amerikaanse spesiale magte en CIA-veteraan, sê hy kan nie met ‘n goeie gewete die voortgesette oorlog ondersteun nie, aangesien Iran geen onmiddellike bedreiging vir Amerika inhou nie. Hy beweer die Trump-administrasie het die oorlog begin weens druk van Israel en sy magtige Amerikaanse drukgroep.
# Rugby: Die Junior Springbokke, stut Carlu Sadie en slot JJ van der Mescht, het ‘n virtuele Springbok-belyningskamp bygewoon voor die begin van die toetsseisoen. Die twee spelers speel albei tans oorsee – Sadie vir Bordeaux Begles in Frankryk, en Van der Mescht vir Northampton Saints in Engeland. Hulle het by Bok-skrumskakel Herschel Jantjies aangesluit, wat laas in 2023 vir Suid-Afrika gespeel het. Ander Wêreldbekerwenners soos Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit, Lood de Jager, Faf de Klerk en Manie Libbok het ook deelgeneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-997-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….