Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-vroue het Nieu-Seeland in Hamilton met 18 lopies verslaan om die reeks van vyf T20s gelykop te maak. Tazmin Brits het 53 gemoker, kaptein Laura Wolvaardt ‘n onoorwonne 41 en Kayla Reyneke ‘n blitsige 28 van net nege balle, en die besoekers het 177 vir vyf aangeteken. Ayabonga Khaka het daarna vier paaltjies laat kantel en Nonkululeko Mlaba drie, en die tuisspan is uitgeboul vir 159. Nieu-Seeland het die eerste wedstryd met 80 lopies gewen. Die derde T20 vind Vrydag in Auckland plaas.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse verspringer Luvo Manyonga sê hy bly vasbeslote om homself beskikbaar te stel vir die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles. Die 35-jarige, wat ‘n silwermedalje verower het op die Spele van 2016 in Rio de Janeiro, sal na ‘n onderbreking van sewe jaar na die internasionale verhoog terugkeer. Hy is gekies in die Suid-Afrikaanse groep om hierdie naweek aan die Wêreldbinnenshuise Kampioenskap in Torun, Pole, deel te neem. Manyonga, wat twee opkikkerskorsings uitgedien het, sê hy is gereed om weer internasionaal mee te ding.
# Rugby: ‘n Gewese afrigter van Engeland, Eddie Jones, glo dit sal ‘n reuse-fout wees om Steve Borthwick af te dank voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Borthwick het die span geneem na 12 agtereenvolgende oorwinnings aan die begin van die Sesnasies, maar dis opgevolg deur vier agtereenvolgende nederlae. Hy was Jones se hulpafrigter voor hy by hom oorgeneem het voor 2023 se Wêreldbekertoernooi. Jones sê Borthwick het ‘n paar foute gemaak tydens die Sesnasies, maar sy unie behoort hom te steun in plaas van af te dank.
# Sokker: Iran het die wêreldbeheerliggaam, FIFA, volgens berigte gevra om sy Wêreldbeker-groepwedstryde van Amerika na Mexiko te skuif. Twee van die wedstryde is geskeduleer vir Los Angeles en die ander een in Seattle, maar Iran is bekommerd oor sy spelers se veiligheid na die Amerikaanse en Israelse aanvalle op die land. Die president van Iran se beheerliggaam, Mehdi Taj, sê die span sal nie na Amerika reis nie nadat president Donald Trump uitdruklik verklaar het hy kan nie hul veiligheid verseker nie. Amerika, Mexiko en Kanada is mede-gashere.
En nog sokkernuus, Chelsea is met sowat 240-miljoen-rand beboet ‒ die Premierliga se grootste boete ooit. Hy het ook ʼn oordragverbod van een jaar gekry, wat vir twee jaar opgeskort is. Dit volg nadat die klub erken het hy het geheime betalings van meer as ‘n miljard-rand aan ongeregistreerde agente en derde partye gemaak in verband met oordragte tussen 2011 en 2018, toe Roman Abramovich die eienaar was. Chelsea het ook ʼn akademie-oordragverbod van nege maande ontvang. Die Premierliga sê die totale boete is gehalveer omdat die Blues dit self aangemeld, en met die ondersoek saamgewerk het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….