Nuus 08:00
BULLETIN 17 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die Ouditeur-generaal se jongste verslag beklemtoon die ineenstorting van munisipale bestuur
# Panyaza Lesufi sê die kontrakteur vir die uitbreiding van Gautrein, sal binnekort aangekondig word
# En die VAE het sy lugruim tydelik gesluit te midde van dreigemente van Iranse hommeltuigaanvalle
# Die EFF sê hy is bekommerd oor die Ouditeur-generaal se verdoemende verslag oor die stand van die land se munisipaliteite. Sedert die 2020/2021-boekjaar het munisipaliteite ongemagtigde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes van meer as 137-miljard-rand aangegaan. Volgens die verslag het 132 versuim om wetgewing na te kom wat vereis dat rekenpligtige amptenare ongemagtigde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes, asook finansiële wangedrag en bedrog hanteer. Die EFF sê die verslag toon dat plaaslike regering ineenstort onder korrupsie, kaderontplooiing en politieke beskerming van oortredings.
# ActionSA sê hy verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag se beoogde herinstelling van korrupsieklagte teen die oud-minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en die voormalige bestuurshoof van EOH, Jehan Mackay. Die klagte spruit uit bewerings van omkoopgeld en luukshede in 2015 ná ‘n tender van die Staatsinligtingstegnologie-agentskap. Die staat het in November 2024 die aanklagte teen Kodwa – voorheen ‘n ANC-woordvoerder – en Mackay laat vaar. Athol Trollip van ActionSA het aan Newzroom Afrika gesê Kodwa moet aanspreeklik gehou word:
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê ‘n kontrakteur wat Gautrein na Springs, Atteridgeville, Fourways en ander ekonomiese gebiede in die provinsie sal uitbrei, word teen die einde van die maand aangekondig. Die provinsiale Vervoerdepartement het 27,8-miljard-rand oor die volgende drie jaar geoormerk vir padopknapping en -instandhouding, asook digitale kaartjiestelsels. Lesufi sê die Gautrein-uitbreiding sal ʼn weg na geleenthede skep:
# Die Verenigde Arabiese Emirate se Algemene Burgerlugvaartowerheid het sy lugruim tydelik gesluit terwyl die land se lugafweer reageer op inkomende missiele en hommeltuie uit Iran. Owerhede sê hierdie voorlopige stap is om vlugte se veiligheid te verseker terwyl spanning in die streek toeneem. Sedert die oorlog begin het, het die VAE meer as 300 ballistiese missiele en een-duisend-600 hommeltuie onderskep. Owerhede in Dubai het gister vlugte by die stad se internasionale lughawe tydelik opgeskort nadat ʼn hommeltuigvoorval ʼn brand by ʼn brandstoftenk in die omgewing veroorsaak het.
# Rugby: Skotland is onseker oor die langtermyn-toekoms van een van sy Sesnasies-sterre, Jack Dempsey, wat aangekondig het dat hy Glasgow verlaat vir ‘n winsgewende aanbod uit Japan. Die agtsteman sal van Desember tot Mei in die land speel. BBC Sports berig dis onduidelik of hy vir sy land beskikbaar sal wees vir November se Nasieskampioenskap-wedstryde. George Turner is nog ‘n Skotse speler wat nie vir Skotland gespeel het terwyl hy ‘n kontrak met Japan se Kobelco Kobe Steelers gehad het nie. Skotland was derde in vanjaar se Sesnasies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-794-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-29-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-en-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….