Nuus 16:00
BULLETIN 16 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie D se vermeende sluipmoordenaar is ‘n voormalige lid van die polisie-taakmag
# ‘n Verdagte is doodgeskiet ná ‘n gyselaarsdrama in ‘n KwaZulu-Natalse polisiestasie
# En tennis: Rybakina skuif op na haar beste posisie op die wêreldranglys ooit nadat sy Indian Wells se eindstryd haal
# ‘n Voormalige lid van die polisie se spesiale taakmag, Matipandile Sotheni, is geïdentifiseer as die vermeende moordenaar van ‘n getuie voor die Madlanga-kommissie. Marius van der Merwe is in Desember in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet. Sotheni het in die plaaslike Landdroshof verskyn op aanklag van onder meer moord. Woordvoerder Athlenda Mathe sê die polisie glo Sotheni het saam met die oud-reservis Wiandré Pretorius gewerk, wat intussen sy eie lewe geneem het:
# ‘n Man is doodgeskiet ná ‘n gyselaarsdrama in die Ntuzuma-polisiestasie in Durban. Die KwaZulu-Natalse polisie sê die man, wat in hegtenis geneem is vir poging tot moord, het ‘n beampte oorweldig en ‘n vuurwapen in die hande gekry voor hy verskeie beamptes gyselaar gehou het. Dit het ongeveer 45-minute geduur voor onderhandelaars ingegryp het. Lede van die polisie het die man doodgeskiet.
# President Cyril Ramaphosa sê klimaatsverandering ontwrig toenemend die vervoerstelsels en infrastruktuur. Ramaphosa het op die eerste Nasionale Vervoerkonferensie in Midrand, Gauteng, gewaarsku uitermatige weerstoestande beskadig paaie, spoorweë en hawens en beïnvloed die beweging van goedere en pendelaars. Hy sê die regering gee voorkeur aan logistieke hervorming deur sy Mediumtermyn Ontwikkelingsplan, en voeg by ondoeltreffende vervoerstelsels benadeel Suid-Afrika se ekonomie:
# Tennis: Elena Rybakina van Kazakstan het Iga Swiatek van Pole in die tweede plek op die wêreldranglys vervang nadat sy die eindstryd van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika gehaal het waar sy teen nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, verloor het. Dit is haar hoogste posisie ooit. Daarna volg die Amerikaners Coco Gauff, Jessica Pegula en Amanda Anisimova en die Italianer Jasmine Paolini. Elina Svitolina van Oekraïne en Victoria Mboko van Kanada het verbeter na agtste en negende plek en die Rus Mirra Andreeva het twee plekke teruggesak na tiende.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-514-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-9-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê gesprekke is aan die gang om die stroomplatform Showmax te laat herleef. Hy het op die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisie-toekennings gesê Showmax het in die vorige boekjaar verliese van miljarde rand gely. Die diens, wat aan die MultiChoice-groep en Canal-Plus van Frankryk behoot, is later uitfaseer nadat inkomsteteikens misgeloop is. McKenzie verwag binnekort ‘n aankondiging oor die moontlike terugkeer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….