Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die uitspraak van die Internasionale Geregshof oor Israel
# Bainskloofpas in die Boland kan gesluit word weens ‘n verwoestende brand
# En, tennis: Daniil Medvedev is deur na die Australiese Ope-eindstryd teen Jannik Sinner
# Die ANC het die uitspraak van die Internasionale Geregshof verwelkom wat Israel beveel het om maatreëls te tref om die regstreekse aanhitsing van volksmoord in sy oorlog in Gaza te voorkom en te straf. Die president van die hof, Joan Donoghue, het benadruk Israel moet hom weerhou van enige dade wat onder die Volksmoordkonvensie kan val, en moet verseker dat sy soldate geen volksmoorddade in Gaza pleeg nie. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het sy tevredenheid met die uitspraak uitgespreek en gesê geregtigheid het geskied:
Die hof het ook die humanitêre situasie in Gaza erken. Donoghue het verklaar Suid-Afrika het die reg om ‘n saak van volksmoord teen Israel aanhangig te maak. Sy sê die hof kom tot die gevolgtrekking daar is ‘n prima facie-saak, wat aandui daar is voldoende bewyse is om voort te gaan:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het diepe ontsteltenis uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers onveranderd te laat op 8,25-persent. Volgens die VSA het die Monetêre Beleidskomitee ‘n geleentheid misgeloop om finansiële laste te verlig deur rentekoerse te verlaag. Die vereniging waarsku oor ‘n moontlike dieper finansiële krisis, met verwysing na die kommerwekkende tempo van bate-terugneming en die middelklas se stryd met stygende rentekoerse. Hulle voer aan ‘n koersverlaging is deurslaggewend vir ekonomiese groei en bestendigheid.
# Die brandweerdiens in samewerking met sy vennote in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, ervaar tans ‘n verergerende situasie naby Bainskloofpas. Die brand op die berghelling bou momentum op en tans werk 124 personeellede, drie helikopters en 12 brandbestrydingsvoertuie aktief om eiendomme te beskerm. Huiseienaars word aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê pendelaars wat die Bainskloofpas gebruik, moet bewus wees van moontlike sluitings weens waterbomaanvalle, en versoek hulle om vir hul eie veiligheid alternatiewe roetes te gebruik:
# Tennis: Daniil Medvedev van Rusland het sy plek bespreek in die eindstryd vir mans in die Australiese Ope deur Alexander Zverev van Duitsland in ‘n uitmergelende halfeindstryd te klop. Die derde gekeurde Medvedev het met twee stelle agtergeloop maar het in vyf stelle koning gekraai. Medvedev het ook in 2021 en 2022 die eindstryd gehaal en hy hoop die derde keer is skeepsreg vir hom wanneer hy Sondag teen Jannik Sinner te staan kom. Die Italianer het in die ander halfeindstryd teen die verwagting in met die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, van Serwië, afgereken om in sy eerste eindstryd van ‘n Grand Slam-toernooi te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-142-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-20-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….