Nuus 09:00
BULLETIN 16 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie verwelkom die arrestasie van ‘n verdagte vir die moord op ‘n sleutelgetuie
# Cosatu sê hulle sal nooit instem tot die likwidasie van die Poskantoor nie
# En One Battle After Another wen ses Oscars, insluitend Beste Rolprent
# Die Madlanga-kommissie het die inhegtenisneming verwelkom van ‘n verdagte vir die moord op ‘n sleutelgetuie wat voor die kommissie getuig het. Die verdagte wat Marius van der Merwe, ook bekend as Getuie D, vermoedelik doodgeskiet het, is oor die naweek in Johannesburg gearresteer. Getuie D het in November verlede jaar getuig, en die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, betrek. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê die verdagte sal vandag in die hof verskyn:
# Die vakbondfederasie Cosatu het die Suid-Afrikaanse Poskantoor se sakereddingspraktisyns se voorstel verwerp om die staatsonderneming te likwideer. Dit volg na die indiening van die nasionale begroting, wat nie die reddingsboei van 3,8-miljard-rand ingesluit het nie, wat die praktisyns volgehou het nodig was om die onderneming op die been te hou. In plaas daarvan is die Poskantoor ongeveer 1,79-miljard-rand oor die volgende drie boekjare toegeken. Matthew Parks van Cosatu sê die praktisyns het niks om te wys vir hul dienstydperk nie, behalwe die aflegging van duisende SAPO-werknemers:
# President Cyril Ramaphosa lewer vandag die intreerede by die Nasionale Vervoerkonferensie by Gallagher Estate. Die konferensie, met die tema “Vervoer: Die Drywer vir Groei, Werkskepping, Inklusiwiteit en Volhoubaarheid,” bring beleidmakers, beleggers en bedryfsleiers bymekaar. Besprekings sal fokus op die modernisering van passasierspoorvervoer, die oplos van hawe- en vrag-bottelnekke, die verbetering van padveiligheid en die uitwissing van infrastruktuuragterstande, terwyl ‘n volhoubare vervoerstelsel bevorder word om ekonomiese groei en werkskepping te ondersteun.
# Tennis: Die wêreldnommer twee Jannik Sinner het sy eerste Indian Wells-titel verower. Hy is nou, naas Novak Djokovic en Roger Federer, slegs die derde man in die geskiedenis om al ses Meesters 1000-hardebaantrofeë in te palm. Die Italianer het die Rus Daniil Medvedev verslaan. In die vroue-afdeling het die wêreldnommer een, Aryna Sabalenka van Belarus, ook haar eerste Indian Wells-titel ingepalm nadat sy Elena Rybakina van Kazakstan gewen het. Sinner sê hy is bly om sy eerste titel van die jaar te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-666-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-19-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die politieke riller, One Battle After Another, was die groot wenner by die 98ste Oscar-toekennings en het ses gewen, insluitend Beste Rolprent, Beste Regisseur vir Paul Thomas Anderson en Beste Ondersteunende Akteur vir Sean Penn. Sinners het vier toekennings gewen, insluitend Beste Akteur vir Michael B. Jordan en Beste Oorspronklike Draaiboek. Jessie Buckley het Beste Aktrise vir Hamnet gewen, terwyl Amy Madigan Beste Ondersteunende Aktrise vir Weapons gewen het. KPop Demon Hunters, die gewildste film in Netflix se geskiedenis, het Beste Animasierolprent en Beste Oorspronklike Liedjie vir Golden gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….