Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig kenners is van mening dat samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag van deurslaggewende belang is om met gesamentlike strategieë vir arrestasies en vervolgings te help.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor Suid-Afrika se sege oor Fidji in die New York-sewestoernooi en hulle verowering van die liga. Die Blitsbokke het met 10-7 oor Fidji geseëvier.
Tweedens skryf die webblad die vermeende dieremishandelaar, Jamie Pieterse, het saam met sy vriendin, Marizelle Swanepoel, in die Wynberg-landdroshof verskyn nadat daar vroeër ‘n klopjag op sy huis in Kirstenhof uitgevoer is.
En laastens is daar nuus oor die 48-jarige boer van Upington, André van der Merwe, wat in Amerika aan komplikasies weens longontsteking oorlede is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het tydens die bekendstelling van die Joshlin Smith-stigting in Saldanhabaai gesê hy is oortuig dat Joshlin steeds lewe. Hy het ook gesê die stigting moet seker maak Joshlin se broer en suster word versorg.
# Sowetan:
Berig ‘n voormalige lid van die polisie se taakmag is in hegtenis geneem in verband met die moord op Marius van der Merwe, ook bekend as Getuie D voor die Madlanga-kommissie.
# En The Citizen:
Skryf ten spyte van die besteding van 90-miljoen-rand om ‘n sakekern vir Kaalfontein in Ekurhuleni te ontwikkel is die terrein steeds oorgroei met onkruid en lang gras. Daar is talle verskonings en bewerings van munisipale bedrog.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor McKenzie se uitlatings oor Joshlin Smith. Hy het Saterdag inligting deur ‘n privaat speurder wat hy aangestel het aan die polisie oorhandig, wat daarop dui dat Joshlin moontlik nog lewe.
Dan skryf die koerant oor die ontplooiing van die weermag na al nege provinsies om te help met optrede teen bendegeweld en onwettige mynbedrywighede.
En laastens is daar nuus oor ‘n Kaapse dief wat ‘n goue ketting van ‘n toeris se nek afgeruk en ingesluk het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Gee eerstens ‘n volledige uiteensetting van die Oos-Kaapse provinsiale begroting en hoe dit die inwoners raak.
En tweedens skryf die koerant die Dierebeskermingsvereniging in Uitenhage het daarin geslaag om die afgelope sewe weke 2,7-miljoen-rand in te samel en sal binnekort ‘n nuwe fasilliteit betrek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is hoop vir ‘n reuse-energie-inspuiting vir KwaZulu-Natal na ‘n vergadering tussen die premier Thamsanqa Ntuli en verskeie belanghebbendes uit die privaat sektor.
En tweedens word berig die provinsiale regering wil ‘n standbeeld vir Mangosuthu Buthelezi oprig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig slegs 294 senior regeringsamptenare gaan van April af mediese sorg by die sewe aangewese staatshospitale kry sodat die nuwe stelsel vir staatsamptenare getoets kan word.
En tweedens skryf die koerant ’n riglyn deur die Ministerie van Onderwys waarvolgens privaat skole graad 12-leerders dringend by erkende eksamineringsliggame moet registreer, wek kommer by sommige privaat skole.