Nuus 07:00
BULLETIN 16 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie verwerp ‘n verslag wat Suid-Afrika verbind met wapensmokkelary na Iran
# SALGA waarsku Eskom-kragonderbrekings kan onbestendigheid meebring
# En Zelensky beweer Rusland voorsien Iran van hommeltuie om Amerikaanse teikens aan te val
# Die Presidensie het ‘n verslag verwerp wat beweer dat Suid-Afrika Iran gehelp het om wapens na militante groepe in die Midde-Ooste te smokkel. Volgens City Press word Iran, Suid-Afrika, die Taliban en die Houthi’s in Jemen in die intelligensieverslag met ‘n wapensmokkeloperasie verbind. Die verslag beweer Taliban-agente is voorheen in Suid-Afrika opgelei. Volgens president Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, is die verslag vals en ‘n ondermyningstaktiek.
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê Operasie Prosper, in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, is ‘n belangrike stap om die land se reaksie op geweldsmisdaad en georganiseerde misdaadnetwerke te versterk. President Cyril Ramaphosa het magtiging gegee vir die ontplooiing van Weermag-lede na misdaadbrandpunte in Gauteng, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, die Vrystaat en Noordwes. Masemola sê meer as tweeduisend soldate sal oor ‘n tydperk van 13 maande saam met die SAPD werk:
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging waarsku Eskom se planne om elektrisiteitstoevoer te onderbreek na munisipaliteite wat hom geld skuld, kan onbestendigheid veroorsaak. Salga se portefeuljehoof vir energie en elektrisiteit, Nhlanhla Ngidi, sê die afsny van krag sal gemeenskappe straf en spanning tussen inwoners en plaaslike owerhede vererger. Eskom het kennisgewings aan 14 munisipaliteite uitgereik wat miljarde rande in onbetaalde elektrisiteitsrekeninge skuld en het ‘n regskonsultasieproses begin voor enige afsluitings ingestel word
# Die voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Minerale en Petroleumbronne, Mikateko Mahlaule, sê die Ekapa-myn in die Noord-Kaap moet rekenskap gee van die tragedie waarin mynwerkers na ‘n modderstorting vasgekeer is. Die komitee het ‘n toesigbesoek afgelê, waar gespesialiseerde mynreddings- en noodreaksie-spanne die afgelope drie weke ontplooi is. Die Departement sê die myn het nege kennisgewings van nie-nakoming voor die tragedie ontvang. Mahlaule het die bestuur aangespoor om voort te gaan met pogings om die liggame van die mynwerkers te herwin en toe te sien dat veiligheidstandaarde gehandhaaf word.
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê intelligensie toon Rusland help Iran om Amerikaanse bates in die Midde-Ooste te teiken deur Shahed-hommeltuie te voorsien. Die Shahed-hommeltuig is oorspronklik deur Teharan ontwikkel, maar Moskou vervaardig nou sy eie weergawes en gebruik dit in sy oorlog teen Kiëf. Zelensky het aan CNN gesê Rusland voorsien Iran ook van intelligensie rondom die liggings en bewegings van Amerikaanse troepe, skepe en vliegtuie:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Daniel van Tonder het die Serengeti-uitspeeltoernooi, die eerste toernooi in die Courier Guy-uitspeelreeks, met twee houe by die Serengeti-landgoed in Gauteng gewen. Hy het op 21 onder syfer geëindig in sy eerste oorwinning van die seisoen. Wilco Nienaber van Suid-Afrika en Allen John van Duitsland was gesamentlik tweede op 19 onder syfer. Van Tonder, wat nou vierde is op die Courier Guy-merietelys, sê dis spesiaal om uiteindelik hierdie trofee te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-644-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-995-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….