Nuus 06:00
BULLETIN 16 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika neem kennis van Israel se reaksie in die Internasionale Geregshof
# Donald Trump sê die VSA is nie gereed om ‘n ooreenkoms met Iran te sluit nie
# En krieket: Die Protea-mans klop Nieu-Seeland in die eerste T20, maar die vroue verloor
# Die regering sê hy het kennis geneem van Israel se reaksie op Suid-Afrika se skriftelike pleitstukke in die volksmoordsaak voor die Internasionale Geregshof. Die saak hou verband met bewerings van volksmoorde wat tydens Israel se aanvalle in Gaza gepleeg is. Die hof het Israel oorspronklik beveel om teen 28 Julie 2025 te reageer. Israel het egter twee keer om uitstel gevra. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die land bly daartoe verbind om sy rol te speel om die beloftes van die Volksmoordkonvensie na te kom:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê Eskom moet beslissend optree wanneer munisipaliteite versuim om elektrisiteitskuld te betaal. Eskom het onlangs gewaarsku dat hulle die grootmaatvoorsiening kan afsny na 14 munisipaliteite wat meer as 100-miljard-rand skuld. Dit sluit Ekurhuleni in, wat 1,7-miljard-rand van sy skuld van 3,4-miljard-rand betaal het na Eskom met opskorting gedreig het. Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het gewaarsku dat onderbrekings in die voorsiening onbestendigheid kan veroorsaak. Die minister dring egter daarop aan dat munisipaliteite aanspreeklikheid vir hul skuld moet neem:
# Die adjunkkommissaris van die Nasionale Mededingingskommissie, Hardin Ratshisusu, het sy oproep herhaal vir die implementering van opsporingstelsels om onwettige handel te bekamp. Onwettige goedere kos na raming die land se ekonomie tot 100-miljard-rand per jaar. Hy sê die voorstel is deel van ‘n nasionale program vir die bestryding van onwettige handel wat daarop gemik is om verbruikers te beskerm en te keer dat nagemaakte tabak-, alkohol- en voedselprodukte die mark betree, terwyl die kommissie voortgaan om voedselpryse te monitor:
# Die DA in Gauteng het die provinsiale regering gekritiseer omdat hulle nie die bek-en-klouseer-krisis prioritiseer nie. DA-woordvoerder Bronwynn Engelbrecht sê die 63-miljoen-rand wat toegeken is om die uitbreking te bestry, is onvoldoende, gesien as deel van die provinsie se begroting van 179-miljard-rand. Sy waarsku die beperkte befondsing en die gebrek aan ‘n duidelike operasionele plan laat ernstige vrae ontstaan oor of Premier Panyaza Lesufi se regering die omvang van die krisis verstaan, asook die risiko wat dit vir werkgeleenthede, voedselsekerheid en die landbou-ekonomie van Gauteng inhou..
# President Donald Trump sê die VSA is nog nie gereed om ‘n ooreenkoms met Iran te sluit om die oorlog te beëindig nie. Dit volg terwyl Teheran nuwe missiel- en hommeltuigaanvalle op lande in die Golf en op Israel van stapel stuur, terwyl Israel en Amerika met aanvalle op Iran voortgaan. Trump het aan NBC News gesê ‘n Iranse verbintenis om enige kernambisies te laat vaar sal deel van ‘n moontlike ooreenkoms wees. Hy sê Amerikaanse magte sal die aanvalle op die Iranse kus noord van die Straat van Hormoes verskerp.
# Krieket: ‘n Nuwe Suid-Afrikaanse span het Nieu-Seeland met sewe paaltjies geklop in die eerste van vyf T20-wedstryde op die Bay Oval in Mount Maunganui. Die nuweling Nqobani Mokoena het drie paaltjies geneem toe die gashere vir 91 lopies binne 15 boulbeurte uitgehaal is. Dit is die Swartpette se 10de laagste totaal in T20’s. Daarna het Connor Esterhuizen ‘n onoorwonne 45 aangeteken en die Proteas maklik tot oorwinning gelei. Intussen het die Protea-vrouespan hul openings-T20-wedstryd teen Nieu-Seeland met 80 lopies verloor in Mount Maunganui, met Amelia Kerr en Georgia Plimmer wat vyftigtalle aangeteken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-39-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-19-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….