Nuus 13:00
BULLETIN 15 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu is vol vertroue dat die Madlanga en ad hoc-ondersoeke sy naam in ere sal herstel
# Gayton McKenzie steun VSA-ambassadeur Bozell te midde van diplomatieke spanning
# En motorsport, die tiener Kimi Antonelli behaal sy eerste Formule Een-oorwinning
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê hy is vol vertroue dat ondersoeke deur die Madlanga-kommissie en die Parlement se ad hoc-komitee hom sal vryspreek van bewerings van politieke inmenging in die regstelsel. President Cyril Ramaphosa het Mchunu op spesiale verlof geplaas na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, onthul het dat Mchunu opdrag gegee het om die taakspan vir politieke moorde te ontbind. Sy woordvoerder Sithembiso Mshengu het vertroue uitgespreek dat die bevindinge geen oortreding sal openbaar nie:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het sy steun uitgespreek vir die Amerikaanse ambassadeur Leo Brent Bozell en hom beskryf as ‘n man met onderskeidingsvermoë. McKenzie sê hy staan by die ambassadeur na omstredenheid oor opmerkings rondom die “Kill the Boer” slagspreuk. Mackenzie se kommentaar volg te midde van gespanne verhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA nadat die ambassadeur se vroeëre uitlatings hom kritiek deur verskeie politieke leiers op die hals gehaal het en kommer in diplomatieke kringe laat ontstaan het.
# Die Wes-Kaapse polisie het bevestig een persoon is dood en drie ander gewond in twee afsonderlike skietvoorvalle op die Kaapse Vlakte. Die polisie sê ‘n 35-jarige man is Vrydagaand buite sy huis in Eureka Estate, Elsiesrivier, doodgeskiet nadat hy na volgens berigte van die moskee teruggekeer het. In ‘n ander voorval in Lavender Hill is twee mans en ‘n agtjarige seun gewond. Polisiewoordvoerder Ndakhe Gwala sê geen arrestasies is gemaak nie en die motiewe bly onbekend. Ondersoeke duur voort.
# Meta, die eienaars van onder meer Facebook, WhatsApp en Instagram, beplan grootskaale afleggings wat 20-persent of meer van die maatskappy se werksmag kan raak. Reuters berig dit volg te midde van Meta se poging om duur beleggings in kunsmatige intelligensie-infrastruktuur te verreken en vir meer doeltreffendheid voor te berei wat deur KI-ondersteunde werkers teweeggebring word. Dit kan die maatskappy se belangrikste afleggings wees sedert die herstrukturering laat in 2022 en vroeg in 2023. Meta het volgens sy jongste rekords teen 31 Desember byna 79-duisend mense in diens gehad. Geen datum is nog vir die besnoeiings vasgestel nie en die omvang is nog nie gefinaliseer nie.
# Motorsport: Kimi Antonelli het dit reggekry! Die tiener van Mercedes het sy eerste F1-oorwinning uit die voorste wegspringplek by die Chinese Grand Prix behaal. Sy spanmaat George Russell het tweede geëindig. Lewis Hamilton van Ferrari was derde. Dit was ‘n goeie dag vir die sewemalige wêreldkampioen wat vir die eerste keer op die wennerspodium was sedert hy verlede by Ferrari aangesluit het. Sy spanmaat Charles Leclerc was vierde.
Formule Een se uitvoerende hoof, Stefano Domenicali, het intussen aangekondig die Grand Prix-wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië, wat onderskeidelik op 12 April en 19 April sou plaasvind, is amptelik gekanselleer. Hy sê dit was ‘n moeilike besluit, maar ongelukkig die regte een, gegewe die huidige situasie in die Midde-Ooste. Hoewel alternatiewe oorweeg is, sal daar nie plaasvervangers wees nie. Die kansellasies beteken dat daar ‘n gaping van vyf weke sal wees tussen die Japanse Grand Prix op 29 Maart en die een in Miami op 3 Mei.
# En ten slotte: Die Motsepe-stigting se 2026 Race to Gender Equality word vandag op die Universiteit van Pretoria se Hillcrest-kampus gehou. Die geleentheid, wat vyf-, tien- en 21-kilometer-wedlope insluit, bevorder vrouebemagtiging, geslagsgelykheid en veiligheid. Dit word in samewerking met die Stad Tshwane en Atletiek Gauteng-Noord aangebied. Die stigting se sportkoördineerder, Dioka Motsepe, het aan SABC News gesê die inisiatief is gemik om geslagsgeweld, ongelykhede in leierskap, finansies en sorgwerk uit te skakel en gesamentlike optrede na ‘n geslagsgebalanseerde samelewing aan te moedig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….