Nuus 12:00
NUUSFLITS SPORTNUUS 14 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Energiekenner sê minister Gordhan moes lankal in die pad gesteek gewees het
# Numsa betoog teen die beweerde bedekte seksuele teistering by Sylvania Metals
# En, motorsport: Die baas van Mercedes verstaan die redes vir die swak prestasie in Brasilië
# ‘n Energie-kenner, Mthunzi Luthuli, sê die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, moes lankal afgedank gewees het óf uitgetree het, want ál die staatsinstellings onder sy beheer is besig om te misluk. Luthuli se opmerkings strook ook met die mening van die DA, wat aangevoer het dat Gordhan die afgelope vyf jaar ‘n ongekende bestuurschaos tot gevolg gehad het op uitvoerende en raadsvlak by staatsondernemings. Luthuli sê, Gordhan hou aan verskoning maak vir die swak vertoning van staatsondernemings, te midde van staatskaping, en geo-politieke magte, maar dit is duidelik hy is ‘n ondoeltreffende minister.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa gaan vandag betoog by Sylvania Metals in Roodepoort, Gauteng, want hulle beweer die mynonderneming beskerm ‘n bestuurder wat beskuldig word van seksuele teistering. Die vakbond eis die bestuurder se onmiddellike skorsing en ‘n onpartydige ondersoek deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Hulle kritiseer die onderneming se gebruik van ‘n beweerde bevooroordeelde diensverskaffer. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, beweer daar heers ‘n klimaat van vrees by Sylvania Metals, met verwysing na onregverdige afdankings en die weiering van verteenwoordigingsregte:
Speel klankgreep:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku teen temperature van tussen 30 en 40 grade Celcius vir die Stad Kaapstad en ander dele van die provinsie oor die volgende twee dae. Die woordvoerder vir die stad se Ramp-risikobestuursentrum, Sonica Lategan, het die publiek aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref om enige potensiële gesondheidsrisiko te versag, en gewaarsku oor die algemene veiligheidsimpak wat die weer kan hê:
Speel klankgreep:
# Motorsport: Die Mercedes-baas Toto Wolff sê hulle het ‘n beter begrip van die foute wat gelei het tot hul swak vertoning by die Brasiliaanse Grand Prix. Lewis Hamilton het sewende geëindig en George Russell moes hom aan die wedren onttrek weens oorverhitting van sy motor. Wolff sê hulle is hard aan die werk om die foute te identifiseer wat hulle met die voorbereiding in Sao Paulo gemaak het, ná belowende vertonings in die VSA en Mexiko. Hy sê, hulle sal dié naweek in Las Vegas beter moet vaar, want hulle wil die tweede posisie in die Vervaardigers-kampioenskap verseker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-735-dollar-10-sent. Die prys van goud is een-duisend-944-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-56-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Bloomberg Shisa Nyama-aanwyser toon die prys van aartappels in Suid-Afrika het verlede maand ‘n ongelooflike 40-persent maand-tot-maand gestyg. Die aanwyser volg noodsaaklike braaivleisbestanddele in townships en toon ‘n beduidende uitwerking op die algehele koste van sleutel-voedselitems. Die algehele aanwyser het verlede maand skerp gestyg tot 17-persent, wat die breër ekonomiese implikasies van die styging onderstreep, vergeleke met 12,5-persent in September. Die ekonomiese verskuiwing beïnvloed die gewilde gewoonte om skyfies te deel, wat ‘n stapelvoedsel in Suid-Afrika is. Hoewel die jaarlikse inflasie tot 5,4-persent gedaal het, bly voedselinflasie hoog op 8-persent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….