Nuus 08:00
BULLETIN 14 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versoek gemeenskappe om die weermag en polisie in die stryd teen misdaad te ondersteun
# AfriForum dreig met regstappe oor Eskom-kragonderbrekingskennisgewings
# En krieket: Die Proteas speel van môre af teen Nieu-Seeland in vyf T20’s
# President Cyril Ramaphosa het gemeenskappe versoek om met die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag saam te werk in die stryd teen misdaad. Tweeduisend-200 SANDF-lede sal in die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, Noordwes en Wes-Kaap ontplooi word om onwettige mynbou en bendegeweld te teiken. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die ontplooiing sal van Maart vanjaar tot Maart volgende jaar plaasvind en meer as 823-miljoen-rand kos:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se ekonomiese herstel duur voort, maar vordering bly stadig en onreëlmatig. Volgens die buro se nuwe hervormingsbarometer het groei in die werklike Bruto Binnelandse Produk verbeter van 0,5-persent in 2024 tot 1,1-persent verlede jaar, hoofsaaklik ondersteun deur huishoudelike besteding en ‘n geleidelike herstel in belegging. Vordering is die sterkste in elektrisiteitshervormings en digitale regeringstelsels, terwyl waterdienste en plaaslike owerheidsfinansies swak bly. Sakevertroue verbeter ook.
# Die Departement van Basiese Onderwys het die Parlement se Staande Komitee oor Begrotings ingelig oor leerdervervoer en vordering met skoolinfrastruktuur. Meer as 730-duisend leerders word daagliks vervoer, hoofsaaklik in landelike gebiede. Volle dekking word deur begrotingsbeperkings belemmer. Amptenare het veiligheidsingrype, insluitend wetstoepassing, uitgelig. Die woordvoerder, Terence Khala, sê infrastruktuurdruk duur voort, met 43-duisend klaskamers wat benodig word en meer as drie-duisend-500 skole waar opgraderings nodig is:
# AfriForum dreig met regstappe teen Eskom indien die nutsmaatskappy voortgaan om elektrisiteit na dorpe af te sny weens munisipale skuld. Die organisasie sê Eskom se kennisgewings aan 14 munisipaliteite is wetlik gebrekkig en kan inwoners, veral bejaardes en hospitale, benadeel indien ‘n voorafbetaalde stelsel gebruik word. Deidré Steffens van AfriForum doen ‘n beroep op die energiereguleerder, Nersa, om te verseker dat alle ooreenkomste aan wetlike vereistes voldoen voordat enige veranderings gemaak word:
# En ten slotte sportnuus:
# Krieket: Keshav Maharaj sal die Proteas in die vyf T20s teen Nieu-Seeland lei, wat môre in Mount Maunganui begin. Kaptein Aiden Markram en ‘n paar ander spelers kry ruskans na die onlangse Wêreldbekertoernooi in die formaat, waar Suid-Afrika in die halfeindronde teen dieselfde teenstanders verloor het. Die volgende drie wedstryde word in Hamilton, Auckland en Wellington gespeel, en die reeks eindig die 25ste in Christchurch. Verskeie spelers uit albei lande vertrek daarna na Indië vir vanjaar se Indiese Premierliga.
# En motorsport: Formule Een-wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië sal gekanselleer of herskeduleer word as gevolg van die Midde-Oosterse oorlog in die streek. ‘n Ingeligte bron het gister aan AFP gesê die wedrenne sal nie op hul geskeduleerde tyd plaasvind nie, met ‘n aankondiging wat binnekort verwag word. Bahrein is tans geskeduleer vir 10 tot 12 April, en Saoedi-Arabië ‘n week later. Die Golf word egter geteister deur twee weke van Iranse hommeltuig- en missielaanvalle. Die Formule Een-beheerliggaam het vroeër gesê veiligheid bly van uiterste belang en verwikkelinge in die streek word voortdurend gemonitor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….