Nuus 16:00
BULLETIN 13 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Reuse-brandstofprysskokke lê voor vir Suid-Afrikaanse motoriste in April
# Mashatile prys grondherverdeling as regstellende geregtigheid
# En rugby: Veertien spelers word ingesluit in die Springbok-vrouesewespan vir ‘n toer in Suid-Amerika
# Motoriste kan volgende maand skerp brandstofprysstygings verwag weens stygende internasionale oliepryse, ‘n swakker rand en nuwe brandstofbelasting-aanpassings. Huidige data van die Sentrale Energiefonds dui aan die petrolprys kan met byna vier-rand per liter styg, terwyl diesel met tussen ses-rand-63 en ses-rand-75 per liter kan styg. Brent-ruoliepryse het die afgelope weke aansienlik gestyg te midde van wêreldwye spanning. Van volgende maand sal bykomende brandstofheffings 21-sent per liter by pomppryse voeg.
# Die geskorste hoof van die polisie se Georganiseerde Misdaad-eenheid, Richard Shibiri, het sy verduideliking aan die Madlanga-kommissie aangepas oor ‘n verwysing na die “ander kant” tydens ‘n oproep met Getuie A. Hy sê hy bedoel die geskorste adjunkkommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya. Shibiri het probeer verduidelik waarom hy amptenare uitgevra het oor die inhegtenisneming van die sakeman Katiso Molefe, en aangedring dit gaan oor aanklagte eerder as opdragte van Sibiya:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die oorhandiging van grond aan die Mtshoeni-Mtsweni-familie in Mpumalanga as ‘n mylpaal vir geregtigheid en ontwikkeling beskryf. Die terugbesorging van meer as 627 hektaar aan die Schulk Marhiqa-gemeenskaplike Eiendomsvereniging herstel grond wat ingevolge die Wet op Naturellegrond van 1913 oorgeneem is. Mashatile sê herverdeling herstel waardigheid en geleenthede. Hy moedig gemeenskappe aan om die grond produktief te gebruik om ekonomiese groei en bemagtiging te bevorder.
# Die Vereniging van Staatsamptenare het sy teenkanting herhaal teen die mediese fonds vir staatsamptenare, GEMS, se verhoging van 9,5-persent in lede se bydraes. GEMS sê hy kan nie die verhoging onder 9,5-persent hou nie omdat dit die Wet op Mediese Skemas se minimum solvensie-vereiste van 25-persent in gedrang bring. Die vakbondse woordvoerder, Claude Naicker, sê die verhoging wat in April intree, kom op ’n tyd waar staatsamptenare weens stygende lewenskoste ernstige finansiële druk ondervind:
# Rugby: Twee nuwelinge, Maceala Samboya en Shanidiné Bezuidenhout, is ingesluit in die groep van 14 Springboksewes-vrouespelers wat Sondag vertrek vir die laaste internasionale sewestoernooie in Uruguay en Brasilië. Afrigter Cecil Afrika het ook die ervare Catha Jacobs betrek. Die toernooie vind volgende naweek in Montevideo plaas en ‘n week later in São Paulo. Afrika is opgewonde oor die potensiële bydraes wat die drie spelers kan lewer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-376-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-109-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….