Nuus 14:00
BULLETIN 13 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA maritieme owerheid monitor Midde-Oosterse konflik te midde van kommer oor skeepsroetes
# Die regering teiken bestuurdergedrag en ‘n bloedalkoholperk van 0-persent om padsterftes te verminder
# En motorsport: Russel spring môre voor weg in die snelren van die Chinese Grand Prix
# Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid monitor die Midde-Oosterse konflik en die moontlike uitwerking daarvan op globale skeepvaartroetes. Amerikaanse en Israelse aanvalle op Iran het die verkeer in die Seestraat van Hormuz ontwrig, waardeur ongeveer 20-persent van wêreldolie-voorrade verskeep word. Skeepsmaatskappye herlei toenemend vaartuie om die Kaap die Goeie Hoop. SAMSA se uitvoerende hoof, Dennis Mqadi, sê hulle is gereed om skepe wat om Suid-Afrika se kuslyn vaar, te help met veiligheids- en navigasie-ondersteuning.
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, sê die regering fokus op openbare opvoeding oor bestuurdergedrag, wat verantwoordelik is vir 80-persent van noodlottige padongelukke. Hy het voor die Paasnaweek gesê die regering wil die Wet op Nasionale Padvervoer hersien om ‘n bloedalkoholperk van nul-persent vir bestuurders in te stel. Hlengwa het bestuurders aangespoor om nie teksboodskappe te stuur nie, elke twee uur te rus en verkeersreëls te volg:
# Die energiereguleerder, NERSA, sê hy is steeds daartoe verbind om die elektrisiteitsektor te reguleer met tariewe wat kostes weerspieël, verbruikers beskerm en die finansiële volhoubaarheid van die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf balanseer. Die gemiddelde tariewe vir Eskom se regstreekse kliënte sal op 1 April met 8,76-persent styg en vir munisipaliteite op 1 Julie met 9,01-persent. NERSA se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die openbare raadplegings-proses oor munisipale tariefaansoeke sal volgende Saterdag afsluit:
# Motorsport: George Russell het die voorste wegspringplek vir die Chinese Grand Prix se snelren behaal, met sy Mercedes-spanmaat Kimi Antonelli van Italië langs hom. Russell was 0,289-sekondes vinniger as Antonelli op die Sjanghaise internasionale renbaan, met McLaren se wêreldkampioen, Lando Norris, derde vinnigste. Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sal môreoggend in sy Ferrari in die vierde plek wegspring vir die wedren oor 19 rondes. Russell sê nadat hy in Melbourne gewen het, het hulle geweet hulle het ‘n baie goeie motor en die enjin het baie goed presteer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-317-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-92-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 97-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Die Tafelberg-sweefspoormaatskappy waarsku alle besoekers en stappers om ekstra versigtig te wees wanneer hulle die berg verken, aangesien die Wes-Kaap tans ‘n intense hittegolf beleef. Woordvoerder Wahida Parker sê die uiterste hitte plaas bykomende druk op die provinsie se reeds oorlaaide waterreserwes, aangesien hoë temperature verdamping en algehele vraag verhoog:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….