Nuus 12:00
BULLETIN 13 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AgriSA behaal ‘n rekord landbouhandelsoorskot van R124,7-miljard in 2025
# Die regering aanvaar ‘n fiskale anker om regeringsbesteding te verbeter
# En die Weerdiens bevestig rekord-hoë temperature in die Wes-Kaap
# AgriSA sê die landbousektor het verlede jaar ‘n geskiedkundige handelsoorskot van 124,7-miljard-rand aangeteken. Uitvoere het gestyg tot 266-miljard-rand, terwyl invoere 141,6-miljard beloop het. Sitrus, druiwe, appels, pere, neute en wyn het uitvoergroei bepaal, en verkope aan Afrika het met 76-persent oor vyf jaar gegroei. Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, waarsku dat veesiektes, haweprobleme en toenemende mededinging toekomstige groei kan beïnvloed, maar die sektor bly ‘n sleutelbron van buitelandse inkomste en ‘n dryfveer vir globale mededingendheid.
# Die regering het ‘n beginselgegronde fiskale anker aanvaar wat van regeringsadministrasies vereis om ‘n gedetailleerde fiskale plan uiteen te sit. Dit sal verseker dat skuld volhoubaar bly. Die doel is om besteding te beheer en skuld in ‘n afwaartse rigting te dwing, na ‘n geskatte hoogtepunt van ongeveer 79-persent vir die finansiële jaar wat op 31 Maart eindig. Die Nasionale Tesourie sê hierdie raamwerk is meer geskik vir Suid-Afrika se ekonomiese situasie en bied die nodige buigsaamheid om op ekonomiese skokke te reageer terwyl fiskale dissipline gehandhaaf word.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê uniformvrye dae by skole plaas onnodige druk op leerders en ouers. Makaneta voer aan hoewel dit bedoel is as pret, dwing hierdie dae gesinne dikwels om geld op nuwe klere te bestee, sodat kinders nie uitgelaat voel nie. Hy het die Departement van Basiese Onderwys versoek om deelname vrywillig te maak en te verseker dat alle leerders ingesluit en na waarde geag word:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcariaz van Spanje, is die vyfde agtereenvolgende keer deur na Indian Wells se halfeindronde nadat hy Cameron Norrie van Brittanje geklop het. Hy speel teen die Rus Daniil Medvedev, wat die verdedigende kampioen, Jack Draper van Brittanje, geklop het. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, het die Amerikaner Learner Tien uitgeskakel en speel volgende teen die Duitser Alexander Zverev, wat die Fransman Arthur Fils verslaan het. Die wêreld se beste vroue-speler, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Kanadees Victoria Mboko geklop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-518-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-65-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-48-sent per vat.
# En laastens: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n hittegolf met rekord-hoë temperature teister die Namakwa-distrik in die Noord- en die Wes-Kaap, met temperature van meer as 44 grade Celsius in sommige gebiede. In Kaapstad en omliggende gebiede is die hoogste temperature vir Maart in meer as ‘n dekade aangeteken. Die senior weervoorspeller, Stella Nake, het inwoners aangespoor om gereeld water te drink, die middagson te vermy en kwesbare mense te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….