Nuus 11:00
BULLETIN 13 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF steun Suid-Afrika se voortgesette pogings om sy fiskale raamwerk te versterk
# Drie mense is doodgeskiet en vier gewond in Bishop Lavis, Kaapstad
# En Amerika laat tydelik toe dat Russiese olie wat ter see gestrand is verkoop word om energiemarkte te ondersteun
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê sterk bestuur van fiskale risiko’s bly van kardinale belang om Suid-Afrika se fiskale volhoubaarheid te verseker, gegewe die geskiedenis van negatiewe begroting-skokke van staatsbeheerde maatskappye. Die fonds het ‘n waardering van die land se fiskale raamwerk gedoen en moontlikhede vir die ontwerp van ‘n fiskale anker oorweeg. Die IMF sê die plan om ‘n beginselgegronde fiskale raamwerk in wetgewing te vestig, is ‘n gepaste eerste stap in die rigting van beleidsgeloofwaardigheid en skuldverminderings-doelwitte. Hy voeg egter by dat dit die steun van sterk openbare finansiële bestuursinstellings sal vereis.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die wettigheid van sy ontplooiing in vyf provinsies verdedig, waar hy bendegeweld en onwettige mynbedrywighede sal bekamp. Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die Polisie, Ian Cameron, het die wettigheid van die Weermag in woongebiede bevraagteken nadat soldate vroeër die week klopjagte uitgevoer het in Eldoradopark, Riverlea, Westbury en Sophiatown. ’n Weermagwoordvoerder, Mpho Mathebula, sê die ontplooiing is ingevolge Artikel 201, Subartikel 2 van die Grondwet:
# Speurders van die Wes-Kaapse teen-bendegeweldeenheid ondersoek ‘n skietvoorval in Kalksteenfontein in Bishop Lavis, Kaapstad, waarin drie mense dood en vier gewond is. Polisiewoordvoerder Novela Potelwa sê sewe mans het buite ‘n huis sit en drink toe drie mans op hulle afgery en lukraak op die groep begin skiet het. Potelwa sê die verdagtes het dadelik weggejaag:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Tesourie het tydelik toestemming gegee dat lande Russiese olie en petroleumprodukte mag koop wat reeds op vaartuie ter see is. Dit volg nadat Iran die Straat van Hormuz versper het en keer dat ‘n vyfde van die wêreld se olievoorraad energiemarkte bereik. Die minister in die Tesourie, Scott Bessent, sê die maatreël wil bestendigheid in die wêreld se energiemarkte verseker en pryse laag hou terwyl hulle optree die bedreiging en onbestendigheid wat Iran veroorsaak. Hy sê hierdie korttermyn-kwytskelding sal tot 11 April van krag bly.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcariaz van Spanje, is die vyfde agtereenvolgende keer deur na Indian Wells se halfeindronde nadat hy Cameron Norrie van Brittanje geklop het. Hy speel teen die Rus Daniil Medvedev, wat die verdedigende kampioen, Jack Draper van Brittanje, geklop het. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, het die Amerikaner Learner Tien uitgeskakel en speel volgende teen die Duitser Alexander Zverev, wat die Fransman Arthur Fils verslaan het. Die wêreld se beste vroue-speler, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Kanadees Victoria Mboko geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-361-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-88-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….