Nuus 09:00
BULLETIN 13 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die bekendstelling van Lenacapavir is ‘n keerpunt
# Keir Starmer sê hy het ‘n fout gemaak met die aanstelling van Mandelson
# En atletiek: Armand Duplantis verbeter die wêreldrekord vir paalspring vir die 15de keer
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se komende bekendstelling van Lenacapavir sal die land se pogings om MIV-besmettings te voorkom ’n goeie hupstoot gee. Hierdie nuwe langwerkende antiretrovirale middel wat twee keer per jaar per inspuiting toegedien word, bied ses maande lank beskerming per dosis. Mashatile sê vordering word gemaak om behandelings- en voorkomingsdienste uit te brei, maar daar is steeds probleme, veral in weerhouding van behandeling, voorkoming onder jongmense en die voortslepende las van tuberkulose. Lenacapavir sal van Mei af toegedien word.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê mislukking op plaaslike regeringsvlak is direk sigbaar in swak dienslewering, insluitend water- en kragonderbrekings, en probleme met afvalbestuur. Sy het gister die Munisipale Regspraktisynsforum in Kaapstad toegespreek. Kubayi sê dis belangrik om munisipale regspraktisyns te bemagtig terwyl munisipaliteite ernstige probleme in die gesig staar:
# Die GOOD-party sê die Stad Johannesburg se aanpassingsbegroting vir bedryf vir 2025/2026 wek ernstige kommer oor die finansiële rigting van die metro. Die begroting is gister nie in die raad goedgekeur nie,. Daar was slegs 117 stemme ten gunste uit die vereiste 136. GOOD se Matthew Cook sê die kommer is dat die aanpassingsbegroting toon dat werknemerverwante koste met 1,35-miljard-rand toeneem, terwyl besteding aan gekontrakteerde dienste met meer as een-miljard-rand verminder word:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer sê hy het ’n fout gemaak om Peter Mandelson aan te stel as ambassadeur in Amerika. ’n Agtergrondondersoek oor Mandelson se aanstelling wat hierdie week vrygestel is, toon daar was weens sy verhouding met die pedofiel, Jeffrey Epstein, ’n risiko dat sy reputasie beskadig kon word. Volgens die verslag is Mandelson ingelig oor sensitiewe materiaal van die ministerie van Buitelandse Sake voor die amptelike keuringsproses afgehandel is. Starmer sê hy aanvaar persoonlik verantwoordelikheid vir die aanstelling:
# Atletiek: Die wêreld en Olimpiese kampioen, Mondo Duplantis, het die paalspring-wêreldrekord vir die 15de keer verbeter, hierdie keer in die Mondo Classic in Swede. Die 26-jarige Amerikaansgebore Sweed het met sy eerste poging 6,31-meter behaal en die rekord wat hy by die Wêreld- atletiekbyeenkoms in September verlede jaar opgestel het, verbeter. Duplantis het al 15 keer wat hy dit verbeter het, die wêreldrekord met die minimum van een-sentimeter perk opgeskuif. Hy sal volgende maand die kans kry om die nuwe wêreldrekord by die Binnenshuise Kampioenskap in Pole te verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-388-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-103-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….