Nuus 07:00
BULLETIN 13 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier Chinese vissersbote word onderskep
# Suikerrietkwekers vra vir sterker tariewe om plaaslike suikerprodusente te beskerm
# En Donald Trump maak stygende oliepryse af as onbelangrik
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê vier vissersbote onder die Chinese vlag is onderskep toe hulle Suid-Afrika se eksklusiewe ekonomiese sone en gebiedswaters sonder die nodige magtiging binnekom het. Hulle is binne 12 seemyl van die KwaZulu-Natalse kus opgemerk en is later langs die Oos-Kaapse kus gevolg. Die departement se woordvoerder, Zolile Nqayi, sê polisie- en vissery-beheerbeamptes het die vaartuie wat aan Shenzhen Shuiwan Pelagic Fisheries behoort, in die Kaapstad-hawe onder bewaking geplaas:
# Die geskorste hoof van die Georganiseerde Misdaadeenheid van die Polisie, Richard Shibiri, het aan die Madlanga-kommissie gesê ‘n betaling van 70-duisend rand deur die tenderpreneur Vusimusi “Cat” Matlala was ‘n lening vir motorherstelwerk. Daar is egter ‘n klankopame waarin Matlala vir die polisie sê die geld was vir alkohol om Shibiri se bevordering te vier. Shibiri hou vol die polisie-opname is onbetroubaar en hou vol die betaling was ‘n lening:
# Die SA Suikerrietkwekers waarsku stygende suikerinvoere bedreig die plaaslike bedryf en die oorlewing van Tongaat Hulett. In Januarie alleen is meer as 24-duisend ton suiker uit Brasilië, Indië en Thailand na Suid-Afrika ingevoer, wat vorige jare se jaarlikse invoer oorskry. Die organisasie sê swak invoertariewe en lae wêreldpryse verdring plaaslik vervaardigde suiker, wat die bedryf verlede seisoen na raming 1,5-miljard-rand gekos het. Higgins Mdluli van die organisasie doen ‘n beroep op die regering om die plaaslike suikersektor te beskerm en daarmee Tongaat Hulett se toekoms te verseker.
# Die Wes-Kaapse regering het 36,651-miljard-rand oor die volgende drie jaar geoormerk vir inisiatiewe wat watersekerheid, energie-herstelvermoë, landbou, toerisme, entrepreneurskap en noodsaaklike infrastruktuur versterk. Die LUR vir Finansies, Deidré Baartman, het die provinsie se 2026/2027-begroting gelewer waarvolgens 285,8-miljard-rand oor die volgende drie jaar bestee sal word. Baartman sê die provinsiale regering het die vestiging van die alternatiewe en gemengde finansieringsreserwe goedgekeur:
# President Donald Trump het die stygende oliepryse as onbelangrik afgemaak en sê Amerika baat by die hoë energiepryse. Die globale oliemark het sowat 15-miljoen vate ru-olie per dag verloor weens die sluiting van die Straat van Hormoes, waarlangs ’n vyfde van die wêreld se olie vervoer word. Trump het op Truth Social gesê dis vir hom baie belangriker om te keer dat ’n bose heerskappy, Iran, kernwapens vervaardig en die Midde-Ooste, en die hele wêreld, vernietig.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, is op die 28ste gasheer vir Sunrisers Hyderabed in die openingswedstryd van vanjaar se Indiese Premierliga. Die staat Karnataka het onlangs ingestem dat die M Chinnawamy-stadion IPL-wedstryde mag aanbied nadat 11 toeskouers in Junie verlede jaar dood is in ‘n stormloop tydens die viering van RCB se titel. ‘n Paneel kundiges gaan egter vandag ‘n inspeksie doen om te besluit of die stadion gereed is. Die organiseerders gaan die program vir die tweede deel van die toernooi later aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-458-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-120-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….