Nuus 18:00
BULLETIN 12 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG-hoof prioritiseer misdaadvoorkoming en die vul van belangrike vakatures
# Die Stad Tshwane skors amptenare oor beweerde munisipale terugbetalingsbedrogspul
# En, FOSA verwelkom die ontplooiing van die Weermag na gemeenskappe in Johannesburg om misdaad en onwettige mynbou te beveg
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Andy Mothibi, sê dis belangrik om kritieke senior vakatures te vul ten einde die eenheid se vermoëns te versterk. Mothibi het op ‘n nuuskonferensie sy voortgesette hersiening van mense, prosesse en stelsels, asook bestuur, risikobestuur en prestasieraamwerke, uiteengesit. Hy het bevestig aanbevelings vir belangrike aanstellings sal aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word om organisatoriese bevoegdheid en dienslewering te verbeter en doeltreffende misdaadvervolging te verseker:
# Die Stad Tshwane het verskeie amptenare in sy finansiële departement geskors wat verbind word met ‘n beweerde munisipale terugbetalingsbedrogspul. Die skorsings volg ná ‘n ondersoek wat in 2023 begin het, toe verdagte transaksies opgespoor is in die stad se inkomstebestuurstelsel. Ongeveer 1,5-miljoen-rand in vermeende bedrieglike transaksies is geïdentifiseer. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê die saak is nou voor die Handelsmisdaadhof in Pretoria waar dit uitgestel is tot 29 April:
# Forum for South Africa verwelkom die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag na Johannesburgse gebiede wat geraak word deur ernstige misdaad, veral Riverlea en Eldoradopark. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê gemeenskappe word reeds te lank geterroriseer deur swaar gewapende misdadige netwerke wat verbind word met onwettige mynboubedrywighede en bendeverwante geweld. Hy voeg by dit moenie ‘n tydelike openbare betrekkinge-oefening wees nie, maar deel van ‘n breër volhoubare oplossing om misdaad uit te roei.
# Die liggame van twee Chinese rugsakreisigers is gevind, nadat hulle in Queensland, Australië, vermis geraak het. Die man en vrou in hul twintigs was van Brisbane af op pad na die Noord-Burnett-streek, maar het nooit opgedaag nie. Die polisie het hul liggame in ‘n voertuig in vloedwater gevind. Daar was die afgelope paar dae verskeie ernstige vloedwaarskuwings vir Queensland en dele van die Noordelike Gebied, met honderde huise wat oorstroom is. Krokodille is op plekke gewaar en inwoners is gewaarsku om uit die water te bly.
# Basketbal: Die Basketbal Afrikaliga is vanaf 27 Maart tot 31 Mei terug vir sy sesde seisoen met 12 spanne wat in twee groepe sal meeding. Vyf spanne neem vir die eerste keer deel, onder meer die Suid-Afrikaanse span, die Johannesburg Giants. Dit liga word in die Kalahari- en Sahara-groepe beslis, met ses spanne in elke afdeling, en die top vier wat na die uitspeelrondes deurdring. Die Kalahari-groep speel in Pretoria, die Sahara-groep in Rabat, Marokko, en die uitspeelrondes en eindstryd sal in Kigali, Rwanda, gespeel word. Altesaam 42 wedstryde is geskeduleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-395-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-160-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 97-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….