Nuus 17:00
BULLETIN 12 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG-hoof prioritiseer misdaadvoorkoming en die vul van belangrike vakatures
# Uitspraak word voorbehou in AfriForum se matriekuitslag-saak
# En, oliepryse styg skerp ondanks rekord-vrystelling van reserwes
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Andy Mothibi, sê dis belangrik om kritieke senior vakatures te vul ten einde die eenheid se vermoëns te versterk. Mothibi het op ‘n nuuskonferensie sy voortgesette hersiening van mense, prosesse en stelsels, asook bestuur, risikobestuur en prestasieraamwerke, uiteengesit. Hy het bevestig aanbevelings vir belangrike aanstellings sal aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word om organisatoriese bevoegdheid en dienslewering te verbeter en doeltreffende misdaadvervolging te verseker:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou oor die Inligtingsreguleerder se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak wat toelaat dat matriekuitslae gepubliseer word. Die hof het voorheen bevind die gebruik van eksamennommers beskerm leerders se privaatheid en dien ook die openbare belang. Alana Bailey van AfriForum sê hulle hoop die langdurige saak, wat al meer as vier jaar aan die gang is, kan nou afgehandel word:
# Die DA het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gekritiseer omdat hy nie opgetree het in ‘n skikking wat aan die voormalige finansiële hoof van Gautengse Gesondheid, Lerato Madyo, betaal is nie. Die DA-lid, Jack Bloom, sê die premier het erken Madyo is weg met ‘n finansiële skikking, nie ‘n bedanking nie. Bloom bevraagteken vertragings in die ondersoek en vra beslissende optrede teen beweerde onreëlmatighede in die Tembisa-hospitaal:
# Aanvalle op nog drie tenkskepe in die Golf het die prys van Brent ru-olie vandag met meer as nege-persent laat opskiet. Die Internasionale Energie-agentskap het vroeër gesê al 32 lidlande het ingestem tot ‘n rekord-vrystelling van olie-reserwes om voorraad-tekorte en hoër pryse teen te werk. Die agentskap het egter vandag erken produksie sal weke en selfs maande neem om na normaal terug te keer, na gelang van die ingewikkeldheid van olievelde, en die tydsberekening vir werkers, toerusting en bronne om na die streek terug te keer.
Rugby: Dit lyk moontlik minder opwindend vir die gereelde sewes-ondersteuner, maar die Blitsbok-voorspeler David Brits dring aan dit is net so lonend om die skrumstryd te wen wat tot ‘n wonderlike drie lei, as om die drie self te druk. Brits, wat saam met die span voorberei vir hierdie naweek se wêreldreekstoernooi in New York, sê hy is tevrede om die donkiewerk te doen en nie die renperd te wees nie. Die Blitsbokke hoop op ‘n driekuns nadat hulle agtereenvolgende goue medaljes in Perth en Vancouver verower het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-229-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-173-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….