Nuus 14:00
BULLETIN 12 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen is bekommerd oor die voortgesette styging in brandstofpryse te midde van die Midde-Oosterse konflik
# ‘n Wydverspreide video wys die Noord-Koreaanse leier en sy tienerdogter wat kruismissiel-lanserings dophou
# En sokker: Iran oorweeg om te onttrek aan die Wêreldbekertoernooi weens Amerika se aanvalle
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê as brandstofpryse aanhou styg, sal wintergraanprodusente die gevolge voel terwyl hulle voorberei om vanaf Mei te plant, en somergraanboere wanneer hul oestydperk begin. Dieselpryse sal na verwagting begin volgende maand met ongeveer vier-rand-40-sent per liter styg weens die Midde-Oosterse konflik. Steenhuisen sê al het Suid-Afrika vanaf Oktober 2023 geen kunsmis regstreeks uit Iran ingevoer nie, is die blootstelling onregstreeks omdat die land vanaf Oman, Katar en Saoedi-Arabië invoer.
# Die geskorste hoof van die polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid, Richard Shibiri, het voor die Madlanga-kommissie getuig dit sou onregverdig wees om hom te oordeel op grond van sy vorige vriendskap met die omstrede sakeman Vusimuzi Matlala. Shibiri sê dit het mettertyd ontwikkel en behoort nie outomaties as ‘n oortreding bestempel te word nie. Hy voer aan dit sou onredelik wees om hom op ‘n enkele voorval te oordeel:
# Die Stad Johannesburg sê hy is besig met ondersoeke na die oorsprong van die swaelagtige reuk wat sedert Januarie in dele van Sandton, Randburg, Roodepoort en Fourways aangemeld word. Data by die Buccleuch- en Alexandra-moniteringstasies het verhoogde vlakke van waterstofsulfied bevestig. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die Departement van Omgewings- en Infrastruktuurdienste se luggehalte-bestuurseenheid werk saam met ander regeringsafdelings om die reuk se oorsprong vas te stel:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Wydverspreide video op sosiale media wys die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, en sy tienerdogter, Kim Ju Ae, wat ‘n toetslopie dophou van strategiese kruismissiele wat vanaf ‘n oorlogskip afgevuur word. Die beeldmateriaal, oorspronklik van die Noord-Koreaanse staatsmedia, het vinnig op TikTok en Instagram versprei en wys die twee in ‘n beheersentrum. Later besoek hulle ‘n wapenfabriek waar albei pistole afvuur. Sosiale media-ontleders merk op die videos word vir Ju Ae gemaak, wat bespiegeling aanvuur dat sy amptelik voorberei word om haar pa op te volg.
# Sokker: Iran se regering het aangedui dat hulle moontlik aan die Wêreldbekertoernooi kan onttrek weens die mede-gasheer, Amerika, en Israel se aanvalle op hom. Die toernooi vind in Amerika, Kanada en Mexiko plaas, maar die meeste van Iran se groepwedstryde word in Amerika gespeel. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër die versekering gegee Iran se span sal welkom wees in sy land. Iran se minister van sport, Ahmad Donyamali, sê egter hulle kan nie deelneem in ‘n land wat hul opperleier, ajatolla Ali Khamenei, vermoor het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-71-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-184-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….