Nuus 08:00
BULLETIN 12 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola versoek Suid-Afrikaanse burgers in die Midde-Ooste om hul ambassades te kontak
# AfriForum vra die privaat sektor om in te gryp en munisipale waterdienste red
# En tennis: Alcaraz en Swiatek is deur na die Indian Wells-kwarteindronde
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het Suid-Afrika se veroordeling van die skending van die Verenigde Nasies se Handves deur die VSA en Israel en die gewapende aanval op die Iranse regering herhaal. Meer as een-duisend-300 burgerlikes is in Iran dood, en byna tienduisend burgerlike terreine is getref sedert die konflik op 28 Februarie begin het. Lamola het alle Suid-Afrikaanse burgers in die Midde-Ooste versoek om hul ambassades te kontak om te verseker hul adresse is op rekord:
In ‘n verdere ontwikkeling het die Irakse ministerie van Olie gesê die teiken van olietenkskepe in die Persiese Golf is ‘n kommerwekkende aanduiding van toenemende spanning. Dit volg nadat Iranse hommeltuie twee vreemde olietenkskepe van maatskappye in Amerika en Griekeland in Irak se gebiedswater aangeval het. Ten minste een persoon is dood en 38 ander is gered. Irak se ministerie van Olie sê sekuriteit en veiligheid van seevaart in internasionale seeroetes en energieverskaffingslyne moet vry bly van streekkonflikte en wedywering.
# AfriForum het die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, gevra om die betrokkenheid van die privaat sektor toe te laat om mislukte munisipale waterdienste te red. Die organisasie sê die krisis, wat veroorsaak word deur vervalle infrastruktuur en swak instandhouding, kan nie deur regeringsbegrotings of komitees opgelos word nie. Lambert de Klerk van AfriForum dring aan op duidelike standaarde, aanspreeklikheid en deursigtigheid in herstelwerk en bestuur om te verseker dat inwoners betroubare toegang tot water het:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is gister in misdaadgeteisterde gebiede in Johannesburg ontplooi, waar hulle huise in Westbury, Eldoradopark en Riverlea gepatrolleer en deursoek het. Dit is deel van die nasionale ingryping wat president Cyril Ramaphosa aangekondig het om die polisie in verskeie provinsies te ondersteun in die bekamping van georganiseerde misdaad en onwettige mynsindikate. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die lede het gereedheidsopleiding ondergaan:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Carlos Alcaraz is die vyfde agtereenvolgende jaar deur na die Indian Wells se kwarteindronde. Die Spanjaard het met die 13de gekeurde Casper Ruud van Noorweë afgereken en kom nou te staan teen die Brit, Cameron Norrie, nadat hy die Australiese kwalifiseerder, Rinki Hijikata, geklop het. Daniil Medvedev van Rusland het die Amerikaner, Alex Michelsen, verslaan om die kwarteindronde te haal. In die vroueafdeling het Iga Swiatek van Pole die Tsjeg, Karolina Muchova, getroef en takel nou Elina Svitolina van Oekraïne in die kwarteindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-150-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….