Nuus 17:00
BULLETIN 11 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid skors drie senior amptenare hangende ondersoeke
# Richard Shibiri erken hy was in kontak met Vusimuzi “Cat” Matlala voor sy arrestasie
# En, die DA kritiseer Gauteng se begroting omdat te min toegeken is aan bek-en-klouseer
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het drie senior amptenare in die nasionale Departement van Gesondheid as ‘n voorsorgmaatreël geskors ná hulle inhegtenisneming op aanklagte van bedrog en diefstal ten bedrae van een-miljoen-rand. Die direkteur-generaal, Sandile Buthelezi, adjunk-direkteur-generaal, Percy Mahlati, en hoof- finansiële beampte, Phaswa Mamogale, sal geskors bly tot hul sake afgehandel is of hul kontrakte verstryk. Foster Mohale van die departement sê Nicolas Crisp is vir drie maande aangestel as waarnemende direkteur-generaal:
Die geskorste hoof van die polisie se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad, Richard Shibiri, het erken hy het ‘n week voor die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se inhegtenisneming met hom gepraat. Shibiri het tydens die verrigtinge erken rekords wat aandui hy het Matlala op 9 Mei 2025 gebel is die waarheid. Shibiri sê hy was destyds in Mpumalanga op soek na bewyse vir ‘n ander ondersoek en kan nie mooi onthou wat die rede vir die oproep was nie:
# Die DA in Gauteng waarsku slegs 63-miljoen-rand is in die provinsiale begroting toegewys om die bek-en-klouseer-uitbreking te bestry. Dit is kommerwekkend vir boere wat worstel met onverkoopte vee, stygende voerkoste en ekonomiese onsekerheid. Die DA-lid, Bronwynn Engelbrecht, sê die Departement van Landbou ontvang altesaam slegs 742-miljoen-rand. Sy beklemtoon dringende inentings, duidelike siektebeheerplanne, sterker veeartsenykundige dienste en onmiddellike kommunikasie met boere is noodsaaklik om voortbestaan en voedselsekerheid te beskerm:
# Minstens ses mense is dood en ander beseer toe ‘n bus aan die brand geslaan het in ‘n dorp in die weste van Switserland. Die voorval het plaasgevind in Kerzers in die Fribourg-kanton, ongeveer 20-kilometer van die hoofstad, Bern. Die polisie sê minstens drie mense is hospitaal toe geneem. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar moontlike brandstigting word ondersoek. Die Switserse president, Guy Parmelin, het in ‘n plasing op X sy skok en hartseer uitgespreek oor die lewensverlies.
# Krieket: Die Proteas het 12,8-miljoen-rand se prysgeld ontvang vir die bereiking van die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die bedrag sal waarskynlik verdeel word tussen die 15 spelers en spanbestuur. Engeland het dieselfde bedrag as Suid-Afrika ontvang nadat hy in die voorlaaste ronde teen Indië verloor het. Die naaswenner, Nieu-Seeland, het 26-miljoen-rand verdien, terwyl Indië 48,7-miljoen-rand ontvang het toe hy die trofee die derde keer gewen het. Die algehele prysgeld van 219-miljoen-rand is 20-persent meer as in die vorige toernooi in 2024.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-546-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-180-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….