Nuus 15:00
BULLETIN 11 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid teiken grenskorrupsie
# Die EFF beskuldig die DA van die privatisering van Binnelandse Sake se dienste deur handelsbanke
# En sokker: Gianni Infantino sê Trump het die versekering gegee dat Iran se span welkom is by die Wêreldbekertoernooi
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê ‘n teen-korrupsie-forum op die Maseru-grenspos in die Vrystaat mik daarna om die stryd teen immigrasiekorrupsie op Suid-Afrika se toegangsroetes te verskerp. Die forum is onder die voorsitterskap van die S-O-E, en verskeie wetstoepassingsagentskappe, soos die Grensbestuursowerheid, word ingesluit om die gevolge van korrupsie uit te lig. Die waarnemende hoof, Leonard Lekgetho, sê daar is vordering gemaak met die identifisering van immigrasie-sindikate:
# Die ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê Suid-Afrika se ekonomiese groei van 1,1-persent verlede jaar dui op ‘n stadige en onegalige herstel. Huishoudelike besteding en infrastruktuurbeleggings het groei ondersteun, terwyl vervaardiging steeds swak is. Parsons waarsku die ekonomie sukkel steeds om die regering se groeiteiken van 3,5-persent vir 2030 te bereik en moet gevare trotseer weens wêreldwye onsekerhede, insluitend die konflik in die Midde-Ooste. Hy sê versnelde strukturele hervorming is nodig om veerkragtigheid te versterk en volgehoue groei te ondersteun wat werk skep.
Die vakbondfederasie Saftu sê intussen die jongste bruto binnelandse produk-syfers bevestig weereens dat bewerings dat Suid-Afrika ’n ekonomiese keerpunt bereik het, nie die werklikheid weerspieël nie. Asive Dyani van Saftu sê in plaas daarvan om plaaslike produksievermoë te verhoog, het die land toenemend ’n groothandelmark vir ingevoerde produkte geword:
# Die EFF sê hy is diep bekommerd die DA sal deur sy beheer oor die Departement van Binnelandse Sake kernstaatsverantwoordelikhede aan privaat finansiële instellings oordra en nie die staat se vermoë herbou nie. Die departement het in samewerking met banke ‘n digitale vennootskapsmodel van stapel gestuur wat mense toelaat om regstreeks by deelnemende takke aansoek te doen vir slim ID-kaarte. Die EFF sê hierdie benadering versterk ongelykheid, omdat daar aanvaar word dat toegang tot burgerskap deur die privaat bankstelsel bemiddel moet word.
# Sokker: Die president van die wêreldbeheerliggaam FIFA, Gianni Infantino, sê die Amerikaanse president, Donald Trump, het hom verseker Iran se span sal welkom wees tydens die Wêreldbekertoernooi wat Amerika saam met Kanada en Mexiko aanbied. Iran was nie teenwoordig tydens verlede week se beplanningsvergadering in Atlanta nie na Amerikaanse en Israelse aanvalle op die land. Infantino sê almal het ‘n geleentheid soos die Wêreldbekertoernooi nodig om mense bymekaar te bring, nou meer as ooit tevore. Die byeenkoms begin op 11 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-614-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-182-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….