Nuus 14:00
BULLETIN 11 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum vra die minister van Finansies om die brandstofheffing te verlaag te midde van die wêreldwye energiekrisis
# Iran waarsku hy gaan Amerikaanse en Israelse ekonomiese en bankbelange in die Midde-Ooste teiken
# En ses gevalle van bek-en-klouseer is nou in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit bevestig
# AfriForum vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die brandstofheffing te verlaag terwyl oliepryse die hoogte inskiet as gevolg van die konflik in die Midde-Ooste. Die organisasie waarsku stygende brandstofkoste sal die prys van alle verbruiksgoedere verhoog. Woordvoerder Ernst van Zyl vra die regering om verligting aan huishoudings te bied en die plaaslike ekonomie te beskerm, en verwys na die brandstofheffingverlaging in 2022 toe die Russies-Oekraïnse konflik begin het:
Iran waarsku intussen hy gaan ekonomiese en bankbelange in die Midde-Ooste teiken wat met Amerika en Israel verbind word. Dit volg nadat Amerikaanse en Israelse magte blykbaar ‘n Iranse bank aangeval het. ‘n Woordvoerder van die Iranse militêre bevel waarsku mense in die streek om weg te bly van banke en sê die vyand dwing hom om ekonomiese sentrums en banke te teiken wat verbind word met wat hy die Amerikaanse en Sionistiese regime in die streek noem.
Terug in Suid-Afrika:
# Die GOOD-party sê president Cyril Ramaphosa se erkenning dat hy ‘n fout gemaak het deur regter Sisi Khampepe aan te stel vir die ondersoek na Waarheids- en Versoeningskommissie-sake, moet verder bekyk word. Dit is onthul in hofdokumente teen oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma se regsaansoek dat Khampepe onttrek weens ‘n belangebotsing. Sy het op die WVK se amnestie-komitee gedien. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, eis ‘n verduideliking:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê sy getal bek-en-klouseergevalle het tot ses gestyg. Daar is ook ses gevalle wat nog bevestig moet word. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê 12 beeste het egter die afgelope paar dae negatief getoets. Hy sê hulle het geen amptelike reaksie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontvang op ’n versoek om hulp by voertuigbeheerpunte te lewer nie:
# Sokker: Die president van Afrika se beheerliggaam, Patrice Motsepe, het ‘n groot verhoging in prysgeld vir Afrika-klubkompetisies voor die 2025/26-seisoen aangekondig. Die wenner van die CAF-Kampioeneliga sal 98-miljoen-rand ontvang, vanaf 40-miljoen-rand, terwyl die CAF-Konfederasiebeker-kampioen se prysgeld tot 65-miljoen-rand sal styg. Dit was 20,4-miljoen-rand toe Motsepe vyf jaar gelede president geword het. Die jongste verhogings verhoog die algehele prysgeld tot meer as 685-miljoen-rand per seisoen. Motsepe sê die veranderinge is gemik op die versterking van Afrika-sokker en om finansiële steun aan klubs reg oor die vasteland te verhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-193-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….