Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Uitvoerverslag van die bedryfsliggaam, Wines of South Africa, toon die waarde van wynuitvoere het in 2023 tot tien-miljard-rand gestyg het, vergeleke met 9,9 miljard rand in 2022. Die verslag toon ‘n wêreldwye ooraanbod wat pryse beïnvloed, veral in die wynsegmente vir laer- en intreevlakke. Die uitvoerende hoof van Wines of South Africa, Siobhan Thompson, is beïndruk met die internasionale aansien van Suid-Afrikaanse wyne en sê dit versterk die land se markteenwoordigheid. Thompson erken egter daar is uitdagings, insluitende kwessies met infrastruktuur by die Kaapstadse hawe, wat plaaslike produsente raak.
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê die doktore Saeideh Babaee, Ashley Coates, Isaac Nape en Matt Noakes is die ontvangers van 2024 se Friedel Sellschop-beurse. The beurse van tot 145-duisend rand elk per jaar vir drie jaar word toegeken om uitsonderlike beginner-navorsers te erken en aan te moedig. Babaee is ‘n dosent aan die Fakulteit van Chemiese en Metallurgiese Ingenieurswese. Haar navorsing is getiteld, “Vernuwende benaderings vir waterstof-berging, insluitend gashidrate en vaste adsorbsie-tegnologie”.
# TuksSport High School se matriekklas het volgens sy trotse tradisie ‘n 100-persent slaagsyfer behaal. Dit is die 18de keer in 21 jaar dat die skool hierdie mylpaal bereik. Altesaam 83-persent van die 48 leerders het vanjaar matriekvrystelling gekry. Hulle spog boonop met 38 onderskeidings en 78 B’s. Die skoolhoof, Hettie de Villiers, sê hoewel die uitslag die deur open vir verdere studies of werksgeleenthede, hang die sukses af van wat die leerders besluit om met daardie geleenthede te doen.
# Die 55-ste aanbieding van die Amerikaanse NACCP-toekennings vir die bevordering van kunstenaars van kleur sê Colman Domingo en Ayo Edebiri loop tans voor. Die toekennings vereer die leiers in onder meer swart rolprentvervaardiging, skryfkuns en musiek. Domingo is vir drie toekennings bemoem, waaronder dié vir uitstaande akteur in ‘n rolprent vir Rustin, terwyl Edebiri twee benoemings ontvang het, insluitend beste ondersteunende aktrise in The Bear. In die musiek-afdelings loop Victoria Monét voor met ses benoemings. Die toekenningsplegtigheid vind op 16 Maart plaas.
# En ten slotte: ‘n Aftreeoord vir bejaarde honde, Silver Paws Senior Sanctuary, bied ‘n toevlugsoord vir ou honde om hul oorblywende jare uit te leef. Die medestigters, Salomé Meyer-Louwrens en Gerrie Louwrens, verduidelik die hondehok-vrye toevlugsoord verwelkom senior honde wat ‘n rustige omgewing benodig tydens hul laaste jare. Ander dienste wat aan die honde verskaf word, sluit in mediese sorg vir harttoestande en artritis, ontwurming, vlooi- en bosluisbehandelings en inentings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….