Nuus 13:00
BULLETIN 11 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê ‘n afname in die spanning in die Midde-Ooste sal oliemarkte bestendig maak
# Markus Jooste se herehuis in Hermanus verkoop vir 105-miljoen-rand
# En rugby: Kenners verwyder ‘n potgooi waarin ‘n Sesnasies-Grand Slam vir Engeland voorspel word
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne is steeds optimisties dat die spanning in die Midde-Ooste binnekort verlig sal word, wat sal help om wêreld-oliemarkte bestendig te maak. Die situasie raak skeepsvaart deur die Seestraat van Hormuz, wat ‘n vyfde van globale olie-uitvoere vervoer. Hoër petrol- en dieselpryse word in April verwag. Woordvoerder Lerato Ntsoko sê instandhoudingswerk word tans by Astron Energy se raffinadery gedoen, maar hy het voldoende brandstofinvoere verseker:
# Die seun van die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Matondze, het hul borgtog-aansoeke laat vaar in die Landdroshof in Alexandra, Gauteng. Hul regspan dui aan hulle beplan om voort te gaan met ‘n pleitooreenkoms. Die twee staan tereg op sewe aanklagte, insluitend poging tot moord, die besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, diefstal en regsverydeling. Dit behels die skietery van ‘n werknemer by hul woning in Hydepark, Johannesburg, verlede maand. Die saak is tot Dinsdag uitgestel.
# Die moordbeskuldigde Tiffany Meek se regspan is voornemens om ’n pleitvoorstel by die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng in te dien. Sy word daarvan beskuldig dat sy verlede jaar haar 11-jarige seun, Jayden-Lee, vermoor het. Hy is aangetref op die trap van die woonstel waar sy gesin in Fleurhof woon. Meek, wat sedert Julie verlede jaar in aanhouding is, word aangekla van moord en regsverydeling. Haar regsverteenwoordiger, Lyle Wyngaard, sê hulle wil die saak afhandel. Meek verskyn weer op 25 Maart in die hof.
# Die ontslape uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, se herehuis in Hermanus in die Wes-Kaap is vir 105-miljoen-rand verkoop. Die eiendom in die gesogte Voëlklip-gebied bestaan uit ‘n hoofhuis met verskeie bykomende wonings, sewe slaapkamers en tien motorhuise. Dis binne ses maande verkoop. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal na verwagting die hoofbegunstigde wees nadat ‘n Hooggeregshofbevel in 2022 bekom is om beslag te lê op Jooste se bates weens beweerde oortredings van valutabeheer-regulasies. Owerhede sê die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor mag ook ‘n deel van die opbrengs eis.
# Rugby: Verskeie kenners het nou baie stil geword nadat hulle ‘n heeltemal ander uitkoms vir Engeland voorspel het in vanjaar se Sesnasies-kompetosie. Die span het die kompetisie afgeskop met ‘n wenrekord van 11 wedstryde en Wallis in die eerste ronde geklop, maar daarna teen Skotland, Ierland en Italië verloor. Kenners soos die voormalige Engelse spelers Mike Tindall en James Haskell, het selfs ‘n eerste Grand Slam in tien jaar vir Engeland voorspel tydens ‘n potgooi, wat intussen verwyder is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-606-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….