Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die president van die wêreldbeheerliggaam FIFA, Gianni Infantino, sê die Amerikaanse president, Donald Trump, het hom verseker Iran se span sal welkom wees tydens die Wêreldbekertoernooi wat Amerika saam met Kanada en Mexiko aanbied. Iran was nie teenwoordig tydens verlede week se beplanningsvergadering in Atlanta nie na Amerikaanse en Israelse aanvalle op die land. Infantino sê almal het ‘n geleentheid soos die Wêreldbekertoernooi nodig om mense bymekaar te bring, nou meer as ooit tevore. Die byeenkoms begin op 11 Junie.
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het een verandering aan sy beginspan aangebring vir Saterdag se wedstryd teen Frankryk in Parys in die laaste ronde van die Sesnasieskompetisie. Ollie Chessum sal as linkerflank begin terwyl Sam Underhill, wat sy 50ste toets vir Engeland sal speel, na die bank skuif. Borthwick se span sal daarna streef om ‘n vierde agtereenvolgende Sesnasies-nederlaag te vermy na nederlae teen Skotland, Ierland en Italië.
Intussen het verskeie kenners nou baie stil geword nadat hulle ‘n heeltemal ander uitkoms vir Engeland voorspel het. Die span het die kompetisie met ‘n wenrekord van 11 wedstryde betree en Wallis in die eerste ronde geklop, maar daarna drie agtereenvolgende nederlae gely. Kenners soos die voormalige Engelse spelers Mike Tindall en James Haskell, het selfs ‘n eerste Grand Slam in tien jaar vir Engeland voorspel tydens ‘n potgooi, wat intussen verwyder is.
# Krieket: Die gewese Australiese aanvangskolwer Matthew Hayden gaan Gujarat Titans se kolwers afrig in vanjaar se Indiese Premierliga. Hy het altesaam 273 wedstryde vir Australië gespeel en 15-duisend lopies aangeteken voor hy in 2009 uit internasionale krieket getree het. Hayden het ook 32 IPL-wedstryde vir Chennai Super Kings gespeel en hulle in 2010 gehelp om die titel te beklink. Die 54-jarige sê goeie kolfwerk plaas druk en skitterende kolfwerk wen wedstryde, wat die standaard is wat hy wil stel. Vanjaar se IPL begin die 28ste van die maand.
# En padwedlope: Die Keniaanse marathonlegende en wêreldkampioen, Eliud Kipchoge begin op 24 Mei ‘n marathontoer oor sewe vastelande in die Kaapstadse marathon. Die reeks van sewe marathons is daarop gemik om gesonder leefstyle te inspireer en gemeenskappe deur hardloop te verenig terwyl fondse vir die Eliud Kipchoge-stigting ingesamel word. Organiseerders verwag meer as 27-duisend atlete in die Kaapstadse byeenkoms, wat ook daarop gemik is om Afrika se eerste Wêreld-marathon-major te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….