Nuus 12:00
BULLETIN 11 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA waarsku die regering oor die stand van Suid-Afrika se verdediging en veiligheid te midde van wêreldwye spanning
# Die EFF vra dat die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika verban moet word
# En tennis: Sinner en Sabalenka is deur na die kwarteindronde op Indian Wells
# Forum for South Africa sê president Cyril Ramaphosa moet dringend voorkeur gee aan die versterking van die land se verdedigingsvermoëns. Dit is te midde van toenemende wêreldwye spanning, insluitend die Amerikaans-Israeliese konflik met Iran, wat onbestendigheid in die Midde-Ooste geskep het. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dis onmoontlik om die risiko te ignoreer dat vyandelike groepe of buitelandse agente swakhede in Suid-Afrika se grense en veiligheid-stelsels kan uitbuit:
# Die EFF vra dat Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, onmiddellik verban en tot persona non grata verklaar word. Dit volg nadat hy op die BizNews-konferensie gesê het die “Kill The Boer”-dreunsang is haatspraak. Die party sê Amerika het geen seggenskap oor Suid-Afrika se plaaslike en buitelandse beleidsagenda nie. Hy sê Bozell se opmerkings is rede vir verbanning omdat hy minagting toon vir die land en die regstelsel.
# Die moordbeskuldigde Tiffany Meek se regspan is voornemens om ’n pleitvoorstel by die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng in te dien. Sy word daarvan beskuldig dat sy verlede jaar haar 11-jarige seun, Jayden-Lee, vermoor het. Hy is aangetref op die trap van die woonstel waar sy gesin in Fleurhof woon. Meek, wat sedert Julie verlede jaar in aanhouding is, word van moord en regsverydeling aangekla. Haar regsverteenwoordiger, Lyle Wyngaard, sê hulle wil die saak afhandel. Meek verskyn weer op 25 Maart in die hof.
# Die Nasionale Seereddingsinstituut vra die publiek om versigtig te wees in die water terwyl die hittegolf in dele van die Wes-Kaap voortduur. Temperature sal na verwagting dié week van die middel-30s tot bo 40 grade Celsius styg. Andrew Ingram van die instituut beveel aan mense moet versigtig wees vir sleurstrome en gladde rivieroewers en reddingsdienste onmiddellik skakel as iemand in gevaar verkeer:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het die derde keer deurgedring na die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi. Die Italianer het die ongekeurde Brasiliaanse tiener Joao Fonseca in skoon stelle geklop, en speel volgende teen die Amerikaner Learner Tien, wat die Spanjaard Alejando Davidovich Fokina uitgeskakel het. Die Fransman Arthur Fils het die negende-gekeurde Kanadees Felix Auger-Aliassime geklop en speel volgende teen die vierde-gekeurde Duitser, Alexander Zverev. Die wêreld se beste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, het Naomi Osaka van Japan maklik geklop om die kwarteindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-576-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-191-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….