Nuus 11:00
BULLETIN 11 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika sê die “Kill The Boer”-dreunsang is haatspraak
# Die Departement van Minerale en Petroleum-hulpbronne sê daar is tans geen gevaar van brandstoftekorte in die land nie
# En tennis: Sinner en Sabalenka is deur na die kwarteindronde op Indian Wells
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, eis dat die regering landelike veiligheid verseker en uitsprake veroordeel wat haat verheerlik, veral ten opsigte van die dreunsang “Kill The Boer”. Die Konstitusionele Hof het verlede jaar AfriForum se appèlaansoek verwerp teen die Appèlhof se beslissing dat dit nie haatspraak is nie. Bozell het op die BizNews-konferensie in Hermanus gesê Amerika se geduld met die Suid-Afrikaanse regering raak op:
Die EFF vra intussen dat Bozell onmiddellik verban en tot persona non grata verklaar word. Die party sê Amerika het geen seggenskap oor Suid-Afrika se plaaslike en buitelandse beleidsagenda nie. Hy sê Bozell se opmerkings is rede vir verbanning omdat hy minagting toon vir die land en die regstelsel.
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne sê daar is geen onmiddellike gevaar van brandstoftekorte in die lande nie, ondanks die konflik in die Midde-Ooste. Suid-Afrika het twee werkende olieraffinaderye, Natref en Astron Energy, asook Sasol se steenkool-tot-olie-aanleg in Secunda wat ’n belangrike rol speel in plaaslike brandstofproduksie. Woordvoerder Lerato Ntsoko sê voortslepende politieke spanning kan druk plaas op internasionale oliepryse, maar die land se brandstofvoorraad is tans bestendig:
# ActionSA verwerp die Ekurhuleni-metro in Gauteng se aanpassingsbegroting en sê dit ignoreer inwoners se dringende diensleweringsbehoeftes. Die begroting, wat deur die raad goedgekeur is, verhoog die metro se bedryfsinkomste met 829,9-miljoen-rand tot 66,3-miljard-rand, terwyl bedryfskoste tot 65,6-miljard-rand toeneem. ActionSA se woordvoerder,Tumelo Tshabalala, sê die begroting het nie ’n duidelike plan om Ekurhuleni se verlammende finansiële krisis te hanteer nie, en kan verdere afgradering en onbestendigheid veroorsaak:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het die derde keer deurgedring na die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi. Die Italianer het die ongekeurde Brasiliaanse tiener Joao Fonseca in skoon stelle geklop en speel volgende teen die Amerikaner Learner Tien, wat die Spanjaar Alejando Davidovich Fokina uitgeskakel het. Die Fransman Arthur Fils het die negende-gekeurde Kanadees Felix Auger-Aliassime geklop en speel volgende teen die vierde-gekeurde Duitser, Alexander Zverev. Die wêreld se beste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, het Naomi Osaka van Japan maklik geklop om die kwarteindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-893-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-199-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….