Nuus 09:00
BULLETIN 11 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Minerale en Petroleum-hulpbronne sê daar is tans geen gevaar van brandstoftekorte in Suid-Afrika nie
# Amerika vernietig 16 Iranse skepe wat seemyne lê in die Seestraat van Hormuz
# En sokker: Groot oorwinnings vir Bayern en Atletico in die eerste kragmetings van die Kampioeneliga se ronde van 16
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne sê daar is ondanks die konflik in die Midde-Ooste geen onmiddellike gevaar van brandstoftekorte in die land nie. Suid-Afrika het twee werkende olieraffinaderye, Natref en Astron Energy, asook Sasol se steenkool-tot-olie-aanleg in Secunda wat ’n belangrike rol speel in plaaslike brandstofproduksie. Woordvoerder Lerato Ntsoko sê voortslepende politieke spanning kan druk plaas op internasionale oliepryse, maar die land se brandstofvoorraad is tans bestendig:
# Die vakverbond Cosatu is nie beïndruk met die jongste groeisyfer in die bruto binnelandse produk nie. Suid-Afrika se ekonomie het in die laaste kwartaal van 2025 geringe groei getoon met die BBP wat tussen Oktober en Desember met 0,4-persent toegeneem het. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hy waardeer dat die ekonomie ’n vyfde agtereenvolgende groeitydperk beleef het, maar dis geensins genoeg om te verseker dat die ekonomie teen twee-persent groei nie:
# Die Nkabinde-ondersoek het die Nasionale Vervolgingsgesag se aansoek verwerp om sy eie saak teen die geskorste Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, te lei. Die paneel sê as hulle toegelaat word om onafhanklik op te tree, kan dit Chauke benadeel en die ondersoek vertraag. Voorsitter regter Bess Nkabinde sê die proses moet die waarheid ontbloot en die NVG se belange word reeds verteenwoordig deur die getuienisgeleide proses:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag sê hy het 16 Iranse skepe vernietig wat seemyne naby die Seestraat van Hormuz gelê het. Die waterweg waarlangs ‘n vyfde van die wêreld se olie voor die oorlog vervoer is, word erg ontwrig deur die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran. Dié land beheer die straat se noordelike gebied. Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê hulle vernietig onaktiewe vaartuie wat seemyne lê met dodelike presisie. Hy sê hulle sal nie toelaat dat terroriste die waterweg gyselaar hou nie.
# Sokker: Bayern München en Atletico Madrid is onderweg na die Kampioeneliga-kwarteindronde, nadat hulle groot oorwinnings behaal het in die eerste kragmetings van die ronde van 16. Bayern het Atalanta 6-1 geklop in sy negende agtereenvolgende weg-oorwinning. Atletico het Tottenham Hotspur 5-2 verslaan. Mario Lemina se kopskoot was genoeg om vir Galatasaray ‘n oorwinning van 1-0 oor Liverpool te verseker. Lamine Yamal se strafskop in die laaste minute het die vyfmalige kampioen, Barcelona, ‘n 1-1 gelykopuitslag teen Newcastle United besorg. Die tweede kragmetings word Dinsdag en volgende Woensdag gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-621-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-204-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….