Nuus 17:00
BULLETIN 10 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie vra vir vroeë aankondiging van verkiesingsdatum om gereedheid vir stembusse te verseker
# Suid-Afrika se BBP groei met 0,4% in vierde kwartaal van 2025
# En, Gauteng verskerp verkryging en nakoming om korrupsie te bekamp
# Die Verkiesingskommissie verwag die aankondiging van vanjaar se plaaslike regeringsverkiesingsdatum sodra die kieser-registrasieprosesse voltooi is. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê kiesers sal tot middernag op die aankondigingsdag tyd hê om te registreer. Hy sê ‘n vroeë aankondiging is noodsaaklik, want dit skop die verkiesingsrooster af, insluitend die sertifisering van die kieserslys, besware en kandidaatbenoemings, ten einde gereedheid vir die stembus te verseker:
# Suid-Afrika se ekonomie het vir ‘n vyfde agtereenvolgende periode groei getoon, met groei van 0,4-persent in die vierde kwartaal van verlede jaar. Tussen Oktober en Desember is die toename hoofsaaklik gedryf deur die finansies-, handels- en dienstesektore, sowel as hoër huishoudelike besteding en owerheidsbesteding. Bokang Vumbukani-Lepolesa van Statistieke Suid-Afrika sê in die jaar as geheel het die ekonomie in 2025 met 1,1-persent verbeter, die sterkste jaarlikse groei sedert 2022, hoewel sektore soos vervaardiging, mynbou en elektrisiteit afgeneem het:
# Die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê die provinsie het verkrygings- en nakomingsprosesse verskerp om korrupsie en die misbruik van openbare fondse te bekamp. Hy het in sy provinsiale begroting maatreëls uitgelig, insluitend strenger finansiële toesig, verbeterde voorsieningsketting-bestuur en die gebruik van digitale moniterings-instrumente om onreëlmatighede na te spoor en verantwoordbaarheid te verseker. Maile sê dis deel van die breër verbintenis tot deursigtige bestuur en herstel van openbare vertroue:
# Die Britse Hoërhuis steun die stap om onder-16’s in die land te verbied om sosiale media-platforms te gebruik. Opposisiepartye het ook hul steun vir die verbod bevestig en dit is toe met 261 stemme teenoor 150 aangeneem. Politieke momentum ten gunste van ‘n verbod het toegeneem in Westminster sedert Australië verlede maand onder-16’s verbied het om tien groot platforms te gebruik. Die Britse regering het aangedui hy sal probeer om ‘n wysiging in die Laerhuis omver te werp, terwyl hulle hul eie raadpleging oor ‘n moontlike verbod hou.
# Rugby: Jayden Nell sluit vandag in Amerika by die Springbok-sewesgroep aan vir die naweek se wêreldreekstoernooi in New York. Die veelsydige voorspeler vervang Christie Grobbelaar, wat sy knie beseer het in verlede naweek se toernooi in Vancouver. Die 20-jarige oud-leerder van Hoërskool Durbanville in Kaapstad, het in 2024 vir die SA-A-span gespeel en kan die naweek sy buiging maak. Hy sluit aan by die ander nuwelinge in die reeks, Nabo Sokoyi, Luan Giliomee, Renaldo Young en Grant de Jager.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-664-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-196-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….