Nuus 16:00
BULLETIN 10 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie vra ‘n vroeë aankondiging van die verkiesingsdatum om gereedheid vir stembusse te verseker
# Die Suid-Afrikaanse Sonkragbedryfsvereniging waarsku ‘n netwerk-bottelnek bedreig sonkrag-uitbreiding
# En rugby: Die vleuel Tom Roebuck hou vol daar is nie verdeeldheid in die Engelse kamp nie
# Die Verkiesingskommissie verwag die aankondiging van vanjaar se plaaslike regeringsverkiesingsdatum sodra die kieser-registrasieprosesse voltooi is. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê kiesers sal tot middernag op die aankondigingsdag tyd hê om te registreer. Hy sê ‘n vroeë aankondiging is noodsaaklik, want dit skop die verkiesingsrooster af, insluitend die sertifisering van die kieserslys, besware en kandidaatbenoemings, ten einde gereedheid vir die stembus te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Sonkragbedryfsvereniging waarsku netwerkbeperkings is tans die grootste struikelblok vir hernubare energie. Daar is meer as tien gigawatt van geïnstalleerde sonkrag en projekte van 220-gigawatt in die pyplyn. Die tegniese en beleidsbestuurder, Sim Khuluse, sê belegging en tegnologie is beskikbaar, maar beperkte netwerkverbindings vertraag projekte, veral in die Noord- en die Oos-Kaap. Hy sê die uitbreiding en modernisering van transmissie-infrastruktuur is nou uiters belangrik om die land se hernubare energiepotensiaal te ontsluit.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg moet die Hooggeregshof nader om ‘n 15-jarige seun se lewe met ‘n leweroorplanting te red. Die tiener van Mpumalanga se gesin weier om ‘n bloedoortapping tydens die operasie toe te laat as gevolg van hul geloof. Die gesin is Jehovas-getuies. Motsoaledi sê almal het die reg tot godsdiens, maar die reg op lewe oorskry alle ander regte. Hy voeg by daar is geen manier waarop ‘n leweroorplanting ooit sonder ‘n bloedoortapping gedoen kan word nie.
# Rugby: Die Engelse vleuel Tom Roebuck ontken daar is verdeeldheid in die groep na hulle drie agtereenvolgende Sesnasies-nederlae. Hulle 12 agtereenvolgende oorwinnings het tot ‘n einde gekom toe hulle teen Skotland en Ierland verloor het, en toe die heel eerste keer teen Italië. ‘n Rusie het ook ontstaan tussen kaptein Maro Itojé en losskakel Fin Smith oor ‘n strafdoel of ‘n hoekskop tydens die wedstryd teen Italië. Roebuck hou egter vol die groep is eensgesind voor Saterdag se laaste ronde-wedstryd teen die verdedigende kampioen, Frankryk, in Parys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-488-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-179-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte: Die Santa-skoenboksprojek verwelkom die V&A Waterfrontin Kaapstad se skenking van 200-duisend-rand. Uitvoerende hoof Deb Zelezniak sê ’n deel van die geld is in Desember ingesamel tydens die gebied se projek om geskenke toe te draai:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….