Nuus 15:00
BULLETIN 10 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie kondig ‘n kieser-registrasienaweek aan voor die plaaslike regeringsverkiesing
# NERSA keur Eskom se tariefverhogings vir 2026/27 goed
# En rugby: Skotland gaan Ierland pak met ses spelers op die krukkelys
# Die Verkiesingskommissie het aangekondig ‘n kieser-registrasienaweek sal op 20 en 21 Junie plaasvind vir vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê voorbereidings vir die verkiesing vorder goed. Hy vra Suid-Afrikaners wat in aanmerking kom om te registreer waar hulle woon en sê die registrasienaweek is daarop gemik om toegang te verbeter en kiesersdeelname te verhoog:
# Die energiereguleerder NERSA het Eskom se kleinhandeltariewe en strukturele aanpassingsaansoek vir die 2026/27-boekjaar goedgekeur. Eskom se kliënte kan van 1 April ‘n gemiddelde verhoging van 8,76-persent verwag en munisipaliteite wat krag by Eskom koop, ‘n verhoging van 9,01-persent vanaf 1 Julie. NERSA se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die besluit het gevolg ná raadpleging met belanghebbendes en dit voldoen aan regulatoriese raamwerke, wat verseker Eskom verhaal sy toegelate inkomste en bevorder deursigtigheid in elektrisiteitspryse.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die passassier-spooragentskap, Prasa, gevra om ondersoek te doen na beweerde bende-betrokkenheid by kontrakte vir die sentrale spoorlyn. AmaBhungane se verslag betrek die bendebaas Ralph Stanfield en sy vrou, Nicole Johnson, by bouprojekte van miljoene rand. Hill-Lewis vra ‘n oudit van kontrak-vloei na maatskappye met bende-bande. Hy vra die polisie ook om kleiner ondernemings met bande met Stanfield te ondersoek:
# Die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê die provinsie sal voortgaan om infrastruktuurgroei voorop te stel in die 2026/27-begroting. Hy het planne uitgelig om te verseker strate, skole en gesondheidsgeriewe ontvang genoeg befondsing om aan die groeiende vraag te voldoen. Maile beklemtoon alle projekte sal met verantwoordbaarheid, deursigtigheid en nakoming ingestel word om dienslewering te verbeter. Hy voeg ondersteuning by vir ekonomiese groei en ‘n beter lewensgehalte vir inwoners:
# Rugby: Skotland se hoofafrigter, Gregor Townsend, moet groot besluite neem voor Saterdag se laaste ronde Sesnasies-wedstryd teen Ierland in Dublin, met ses spelers wat weens beserings nie beskikbaar is nie. Die Skotte het skielik ‘n kans om die kampioenskap te beklink nadat hulle verlede naweek onverwags die verdedigende kampioen en voorloper, Frankryk, geklop het. Onder die beseerdes is die span se voorste drie-drukker, die Suid-Afrikaans-gebore vleuel Duhan van der Merwe, en die slotte Gregor Brown en Scott Cummings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-733-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….