Nuus 14:00
BULLETIN 10 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Interpol reik ‘n rooi kennisgewing uit vir ‘n bedrogverdagte verbind met ‘n Kaapstadse familie vir swendelary van 31,5-miljard-rand
# Die leiers van die Nasionale Dialoog se bestuurskomitee is verkies
# En krieket: Kevin Pietersen wil by Engeland se toets-afrigtingspan aansluit
# Interpol het ‘n rooi kennisgewing uitgereik vir die Suid-Afrikaanse sakeman Benjamin Mauerberger, ook bekend as Ben Berger of Ben Smith, wat beskuldig word van geldwassery vir wêreldwye bedrog-netwerke van 31,5-miljard-rand. Mauerberger word verbind met ‘n vooraanstaande Kaapstadse familie en het na bewering geldvloei vir bedrieglike bedrywighede in Suidoos-Asië hanteer, insluitend groot samesmeltings in Kambodja. Owerhede in Singapoer en Thailand het beslag gelê op bates en die internasionale druk verhoog. Ondersoekers glo hy het dalk gevlug op sy seiljag van 2,1-miljard-rand, Wanderlust, terwyl die wêreldwye soektog voortduur.
# Suid-Afrika se Nasionale Dialoogproses het sy eerste fase betree na die suksesvolle verkiesing van die leierskap van die Nasionale Dialoog se bestuurskomitee. Die eerste Nasionale Konvensie, wat in Augustus verlede jaar gehou is, het die mandaat, verantwoordelikhede en samestelling van die bestuurskomitee goedgekeur. Die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad, NEDLAC, se uitvoerende direkteur, Makhukhu Mampuru, sê die leierskapsverkiesing en die konsolidering van die bestuurstrukture gee die Nasionale Dialoog ‘n stewige fondament vanwaar die volgende fase van gesprekke kan begin.
# Die sakeman Suliman Carrim se regsverteenwoordiger het die Madlanga-kommissie gevra vir tyd om ‘n formele uitstel-aansoek voor te berei. Advokaat Rafik Bhana sê nuwe finansiële dokumente, insluitend bankstate en twee onbekende transaksierekords tussen Medicare Tshwane en Carrim se onderneming, Tasmica Construction, is vroeg vanoggend ontvang. Hy voer aan die laat openbaarmaking beperk die tyd om dit met sy kliënt te bespreek voor hy ondervra word oor onbekende betalings:
# Die UDM het die speaker van die Parlement, Thoko Didiza, gevra om in te gryp oor Bafana Bafana se sokkerafrigter, Hugo Broos, se beweerde rassistiese en seksistiese opmerkings. Die party het in Desember ‘n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien. Yongama Zigebe van die UDM sê Broos het om verskoning gevra, maar die klagte was nooit beperk tot die gedrag van een persoon nie:
# Krieket: Engeland se gewese kaptein, Kevin Pietersen, is bereid om by sy aangenome land se toetsafrigtingspan aan te sluit. Dit volg op Engeland se nederlaag van 4-1 in verlede jaar se reeks om die As. Dit gelei het tot ‘n ondersoek na afrigter Brendon McCullum se aggressiewe “Bazball“-taktiek. Die Suid-Afrikaans-gebore Pietersen het die As en die T20-Wêreldbeker gewen toe hy vir Engeland gespeel het. Hy wil die benadering tot toetse verander, want hy glo spelers moenie roekeloos en onverskillig wees in toetse soos in witbalkrieket nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-816-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-178-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….