Nuus 12:00
BULLETIN 10 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners moet hul staal vir rekord-stygings in brandstofpryse
# Meer as 50 grensamptenare is afgedank weens korrupsie
# En rugby: ‘n Franse flank verskyn voor ‘n tugkomitee ná ‘n oogkrap-voorval in die kragmeting met Skotland
# Suid-Afrikaners staal hulle vir ’n finansiële terugslag terwyl kenners waarsku oor rekordstygings in brandstofpryse. ’n Styging van tot vyf-rand per liter word voorspel weens die konflik in die Midde-Ooste en die verswakkende rand. Stanlib-batebestuur se hoofekonoom, Kevin Lings, sê dit sal ’n domino-uitwerking op lewenskoste hê. Hy sê die omvang van die skerp styging is ongekend en plaas enorme druk op huishoudings wat reeds swaarkry. Lings sê dit kan Suid-Afrika se kwesbare ekonomiese herstel kelder.
Intussen waarsku die Amerikaanse president, Donald Trump, Iran se poging om olie-verskeping deur die Seestraat van Hormuz te ontwrig, sal ‘n reaksie ontlok 20 keer hewiger as vorige aanvalle. Iran se Revolusionêre Wag het gewaarsku indien die Israels-Amerikaanse aanvalle voortduur, hulle olie-verskeping sal verhoed op dié roete wat 20-persent van die wêreld se olie vervoer. Trump sê olievoorraad sal in die lange duur beduidend veiliger wees sonder Iranse skepe en missiele:
# Meer as 50 amptenaar wat op Suid-Afrikaanse grensposte gewerk het, is weens korrupsie afgedank. Die Grensbestuursowerheid se kommissaris, Michael Masiapato, sê hulle is afgedank omdat hulle mense toegelaat het om die land onwettig binne te kom. Hy sê die afdankings is deel van pogings om toe te slaan op korrupsie en grensveiligheid te versterk. Masiapato sê ondersoeke na wangedrag op grensposte gaan voort:
# Die GOOD-party sê Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se belofte om ‘n muur te bou om gemeenskappe langs die N2 tussen Khayelitsha en Langa van die pad te hou, kan moontlik ‘n verkiesingsfoefie wees. Hill-Lewis het herhaaldelik gesê die muur sal help om inwoners te beveilig. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het ontken dat hy by so ‘n projek betrokke was:
# Rugby: Die Franse flank Oscar Jegou word vandag dissiplinêr verhoor nadat hy na bewering sy vinger in Skotland se plaasvervanger-haker, Ewan Ashman, se oog gesteek het tydens Saterdag se Sesnasies-wedstryd in Edinburgh. Jegou is nie tydens die wedstryd gestraf nie. Die Skotte het 50-40 gewen en die hoop lewend gehou om die titel te buit. Die Springbok-slot Eben Etzebeth is vir 12 weke geskors na ’n soortgelyke voorval tydens die sege oor Wallis in November. Hy mag eers later hierdie maand weer speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-814-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-179-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….