Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Sasol oorskry 100-miljard-rand se markkapitalisasie namate oliepryse die hoogte inskiet. Die koerant skryf beleggers verwag hoër winsmarges vir die groep namate die Brent-olieprys styg
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met die getuienis van die sakeman Sulliman Carrim voor die Madlanga-kommissie. Dit het aan die lig gekom dat miljoene rand se saketransaksies tussen Carrim, Morgan Maumela en Vusimuzi ‘Cat’ Matlala gevoer is. Daar is ook sprake dat Maumela by die Tembisa-hospitaal-bedrogspul betrek word. Die kommissie het aangevoer dat Carrim steeds sake met Matlala gedoen het al was hy bewus van die bedrog met die polisietender.
Dan skryf die webblad die Iranse Oppergesag het die gestorwe ajatolla Ali Khamenei se seun, Mojtaba, gekies om die leisels as Iran se opperleier oor te neem.
En laastens is daar nuus oor die versterking van bande tussen Suid-Afrika en Brasillië.
GAUTENG:
# The Star:
Berig soos Netwerk24 ook oor die getuienis van die sakeman Sulliman Carrim voor die Madlanga-kommissie.
# Sowetan:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motshoaledi het met hofstappe ingegryp om te verseker dat ‘n jeugdige pasiënt ‘n leweroorplanting en bloedoortapping kry. Dit volg nadat sy ouers weens geloofsredes geweier het.
# En The Citizen:
Lei met: “WILL WE RUN OUT OF FUEL”. Die koerant skryf daar bestaan kommer in regeringskringe oor Suid-Afrika se brandstofreserwe
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die brandstofpryskrisis wat die land in die gesig staar, asook oor ander negatiewe gevolge wat die Midde-Oosterse krisis op Suid-Afrika mag hê. Volgens kenners kan diesel in April met tot sewe-rand per liter styg. Die Reserwebank heroorweeg ook enige verlaging in die repokoers.
En tweedens skryf die koerant die 57-jaige Mike Wilson van Constantia is die deelnemer wat Sondag tydens die Kaapstad-fietstoer dood is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n plaaslike raadslid wat aangekla word van die aanranding op die ma van sy kind.
En tweedens skryf die koerant ‘n man is gevonnis oor verwaarlosing en mishandeling by ‘n varktelery in Gqeberha.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor die olie-krisis waarin die wêreld hom bevind.
En berig dit is onmoontlik vir onderwysers om vroeg af te tree. KwaZulu-Natalse onderwysvakbonde het ’n beroep gedoen op die provinsiale Onderwysdepartement om verwerpte aansoeke vir vroeë aftrede te hersien, en waarsku dat begrotingsbeperkings langdienende personeel onregverdig blokkeer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Swapo-kongres in 2027 wat die topleierskap van die regerende party sal verkies, word as ’n bepalende oomblik vir die land se toekoms beskou. Kenners waarsku teen faksievorming.
En tweedens skryf die koerant die nuwe bestuurskomitee van die staat se mediese fonds moet die beleërde Psemas omdraai in aanloop tot Visie April 2026 en Namibië se instelling van sy Universele Gesondheidsdekking.