Nuus 07:00
BULLETIN 10 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê sterker ekonomiese samewerking met Brasilië is noodsaaklik
# Die Britse minister van Finansies waarsku oor stygende inflasie as gevolg van die Iran-oorlog
# En krieket: Sri Lanka stel Gary Kirsten aan as hul nuwe hoofafrigter
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Brasilië deel ’n verbintenis tot gelykheid, ekonomiese groei en die uitwissing van armoede. Hy het gister met ’n tweedaagse staatsbesoek in dié land begin om bilaterale betrekkinge te versterk. Ramaphosa sê die gedeelde waardes tussen Suid-Afrika en Brasilië bied ’n sterk basis om praktiese, wedersyds voordelige programme te bou wat die lande se onderskeie nasionale ontwikkelingsprioriteite bevorder:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die uitvoerende hoof van die Padverkeer-bestuurskorporasie, Makhosini Msibi, se skorsing tersyde gestel en gesê dis onregmatig. Hy is in Julie verlede jaar ná ’n klag deur ’n fluitjieblaser geskors oor bewerings van finansiële wangedrag, onregmatige besteding en bestuursmislukkings. Regter Jan Jacobus Clute Swanepoel het bevind die korporasie se raad het nie die gesag om Msibi te skors nie, net die Aandeelhouerskomitee mag dit doen. Die regter het ook die raad se 2024-handves ongeldig verklaar, maar dit vir 90 dae opgeskort.
# Die Economic Freedom Fighters in Gauteng eis die onmiddellike vrystelling van die Phala Phala-uitspraak, wat al vir meer as ‘n jaar en vier maande teruggehou word. Die party sê die vertraging ondermyn deursigtigheid, verantwoordbaarheid en openbare vertroue in die regstelsel. Ondersteuners beplan om by die Konstitusionele Hof byeen te kom om te vra vir dringende geregtelike optrede, wat dui op die EFF se verbintenis tot die verdediging van die oppergesag van die reg en die versekering dat die publiek toegang tot die langverwagte uitspraak het.
# Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme in die Wes-Kaap, Ivan Meyer, vra sterker landelike veiligheidsmaatreëls en beter toegeruste polisie na ‘n toename in gewelddadige aanvalle op boere en landelike gemeenskappe. Meyer het gister die eerste hofverskyning van verdagtes bygewoon wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n boer in Lambertsbaai aangerand het. Meyer het ‘n onlangse aanval op toeriste in Swellendam uitgelig en gewaarsku sulke misdade bedreig beide landbou en toerisme:
# Die Verenigde Koninkryk se minister van Finansies, Rachel Reeves, waarsku die situasie in die Midde-Ooste gaan waarskynlik in die komende maande inflasie laat styg. Sy het gister in die Parlement ’n noodverklaring gelewer oor die ekonomiese uitwerking van Amerika en Israel se oorlog teen Iran. Dit volg nadat sy virtueel aangesluit het by ’n noodvergadering van die G7-lande se ministers van Finansies. Reeves sê sy het tydens die vergadering vier belangrike prioriteite beklemtoon:
# Krieket: Die Suid-Afrikaner Gary Kirsten is vir twee jaar aangestel as Sri Lanka se nuwe hoofafrigter. Die 58-jarige Kirsten vervang Sanath Jayasuriya, wat bedank het nadat die span by die T20-Wêreldbeker uitgeskakel is. Kirsten se kontrak is geldig tot April 2028. Hy het Indië na hul 2011-Wêreldbeker-titel gelei en onder sy leierskap was Suid-Afrika in 2013 die topspan in alle krieket-formate. Sri Lanka Krieket sê Kirsten se basiese verantwoordelikheid is om die span voor te berei vir die 2027-Wêreldbeker en die veldtog te lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-225-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-171-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….