Nuus 16:00
BULLETIN 9 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die G7-lande hou ‘n noodvergadering om oliereserwes beskikbaar te stel
# Israel sê hy het Iranse bevelvoerders in Beiroet geteiken terwyl die dodetal 400 nader
# En rugby: Borthwick het steeds sy unie se steun ondanks Engeland se swak Sesnasies-veldtog
# G7-lande hou vandag ‘n noodvergadering om stygende oliepryse te bespreek nadat ruolie tot bo 100-dollar per vat gestyg het met aandelemarkte wat daal weens die verergerende Amerikaans-Israeliese oorlog met Iran. Ministers van Finansies van sewe nywerheidslande, insluitend die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Italië en Kanada, sal die ekonomiese uitwerking van die konflik bespreek, asook die gesamentlike beskikbaarstelling van petroleumreserwes, gekoördineer deur die Internasionale Energie-agentskap. Wêreldwye oliepryse het skerp gestyg weens vrese vir ‘n langdurige ontwrigting van energievoorrade deur die belangrike skeepsroete deur die Seestraat van Hormuz.
Die Israelse Weermag sê intussen hy het Iranse bevelvoerders in Beiroet getref en die omvang van sy veldtog uitgebrei na die hart van die Libanese hoofstad. ‘n Militêre bron sê die jongste aanval het vyf senior Iranse lede van die Quds Force geteiken, insluitend intelligensie- en finansiële personeel. Die hommeltuigaanval was die eerste in Beiroet se stadsgrense sedert vyandelikhede tussen Israel en Hizbollah verlede week hervat het. Die Libanese Ministerie van Gesondheid sê die dodetal staan op 394, insluitend minstens 83 kinders en 42 vroue.
Terug in Suid-Afrika:
# ‘n Sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, ontken dat hy ‘n bemiddelaar was in die tenderooreenkoms tussen die Polisiediens en die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala. Hy het voor die Madlanga-kommissie ook getuig hy het geen persoonlike of beroepsverwante verhouding met die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, die hoof van Teenintelligensie, Feroz Khan, of die geskorste adjunk-nasionale kommissaris, Shadrack Sibiya, nie. Carrim beklemtoon Brown Mogotsi is slegs ‘n sake-kennis:
# Rugby: Die Engelse Rugbyunie skaar hom agter hoofafrigter Steve Borthwick ondanks agtereenvolgende nederlae teen Skotland, Ierland en Italië in die Sesnasieskompetisie. Die unie se uitvoerende hoof, Bill Sweeney, sê Engeland se veldtog sal deeglik ondersoek word na Saterdag se laaste wedstryd teen Frankryk in Parys. Borthwick sê hy is steeds die beste man vir die pos:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-44-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-104-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-42-sent per vat.
# En laastens, finansiële kenners waarsku ‘n testament kan nie die regsreëls van sterftevoordele in uittree-annuïteite oorheers nie. ‘n Kenner in finansiële beplanning van Crue Invest, Craig Torr, het aan Moneyweb gesê uittree-annuïteite is doeltreffende langtermyn-spaarstelsels, maar die Wet op Pensioenfondse reguleer dit. Trustees en nie die oorledene se testament nie, moet bepaal hoe die fondse aan wettige en finansiële afhanklikes versprei word om regverdige toewysing te verseker. Torr sê behoorlike beplanning en bygewerkte besonderhede van begunstigdes is noodsaaklik om vertragings, geskille en onopsetlike uitkomste te vermy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….