Nuus 15:00
BULLETIN 9 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suliman Carrim sê Matlala en Mogotsi het hom mislei met die SAPD-tenderooreenkoms
# Teheran dreig om beslag te lê op eiendom van Iraniërs in die buiteland wat aanvalle op hul land steun
# En rugby: Drie spanne is steeds in die wedloop om die Sesnasies te wen
# ‘n Sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, het voor die Madlanga-kommissie getuig die omstrede sakemanne Vusimuzi ‘Cat’ Matlala en Brown Mogotsi het hom uitgebuit. Carrim het tien-miljoen-rand belê in ‘n tender vir mediese dienste nadat Matlala beweer het hy het ‘n kontrak verbind aan die Polisiediens bekom. Carrim sê beloftes van terugbetaling is nie nagekom nie. Hy verwerp ook bewerings dat hy die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, ken:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Landelike Ontwikkeling en Landbouhervorming, Nonceba Kontsiwe, sê die provinsie het binne ‘n week meer as 63-duisend beeste ingeënt teen bek-en-klouseer. Dit volg nadat die eerste 150-duisend dosisse Argentynse entstof verlede week in die provinsie aangekom het. Kontsiwe sê die departement het ‘n bestelling vir een-miljoen-en-50-duisend entstowwe by Onderstepoort-biologiese Produkte geplaas nadat die provinsiale Tesourie verlede maand 55-miljoen-rand se noodbefondsing toegeken het:
# ‘n Navorser aan die Universiteit Stellenbosch, Rebecca Selkirk, sê die herhaling van grade 10 en 11 help nie altyd leerders nie. Haar studie in die Wes-Kaap het bevind die herhaling van graad 11 het beter matriekuitslae getoon, maar die uitwerking het in 2020 swakker geword toe minder leerders die graad herhaal het. Sy sê ander ondersteuningsmetodes kan ook werk, en beleidmakers moet nie te veel klem plaas op matriekslaagsyfers nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Iranse regering het burgers wat in die buiteland woon, gewaarsku daar kan beslag gelê word op hul eiendom en ander strawwe kan toegedien word as hulle Amerika en Israel steun. Die Iranse aanklaer-generaal se kantoor het die waarskuwing gerig. Sommige lede van die Iranse diaspora, wat politieke verandering in Teheran wil hê, het Europese en Amerikaanse stede ingevaar om die dood van opperleier ajatolla Ali Khamenei te vier. Iran het vandag die 55-jarige Mojtaba Khamenei aangewys as sy pa se opvolger.
# Rugby: Frankryk, Skotland en Ierland het almal steeds ‘n kans om vanjaar se Sesnasies-kroon te wen. Frankryk is steeds bo-aan die punteleer met die Skotte nou tweede, ook op 16, maar met ‘n kleiner punteverskil as die Hane. Ierland het net twee punte minder in die derde plek, gevolg deur Italië met nege punte, Engeland met ses en Wallis met een. Die kompetisie eindig Saterdag met die kragmetings tussen Ierland en Skotland in Dublin, Wallis en Italië in Cardiff en Frankryk en Engeland in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-510-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-82-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….