Nuus 11:00
BULLETIN 9 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank heroorweeg inflasiemoontlikhede terwyl oliepryse skerp styg
# ‘n Sewende Amerikaanse soldaat sterf in die Midde-Oosterse konflik
# En rugby: Die Blitsbok-afrigter is trots op hulle kliniese spel in Vancouver
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê hy gaan die scenario’s vir sy volgende rentekoers-beleidsvergadering heroorweeg omdat die Midde-Oosterse konflik oliepryse opjaag. Die bank se president, Lesetja Kganyago, het aan Reuters gesê hulle het vooraf beraam die ergste situasie sou wees dat die gemiddelde olieprys vir die jaar tot 75-dollar per vat sou styg en die rand tot 18-rand-50-sent teen die dollar verswak. Hy sê hulle sal dit nou moet aanpas en die uitwerking van die geopolitieke situasie en wisselkoers in ag neem.
# Die EFF is bekommerd omdat die Ouditeur-generaal nie inligting bekendmaak oor munisipaliteite wat deur die gebruik van watertenkwaens staatsgeld plunder nie. Die party het ’n lys aangevra van die 55 munisipaliteite wat watertenkwaens gebruik. Hy sê daar is prima facie-getuienis dat watertenkwa-maatskappye munisipale waterinfrastruktuur beskadig om munisipaliteite te dwing om hul dienste te gebruik. Die EFF sê dis ook kommerwekkend dat hierdie maatskappye korrupte verhoudings met munisipale amptenare het.
# ’n Ondersoek is begin ná ’n botsing tussen ’n bus en ’n motor op die N6 tussen KuGompo en Stutterheim in die Oos-Kaap waarin vyf mense dood is. Die slagoffers was insittendes van ’n Volkswagen Polo, terwyl 60 Zimbabwiese burgers op die bus geringe tot ernstige beserings opgedoen het. Makhaya Komisa van die provinsiale Vervoerdepartement, sê hulle ondersoek klagtes van strafbare manslag en roekelose bestuur:
# ’n Sewende Amerikaanse Weermaglid is dood aan beserings wat hy in Iran se aanvanklike aanval in die Midde-Ooste opgedoen het toe ’n tydelike bedryfsentrum op die burgerlike hawe Shuaiba in Koeweit getref is. Die oorskot van ses ander soldate wat gesterf het, het die naweek op die Lugmagbasis Dover in Delaware aangekom. Die minister van Verdediging, Pete Hegseth, het aan CBS gesê die Amerikaanse sending in Iran is goed op dreef:
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hy is trots op die span se kliniese spel teen Spanje in die eindstryd van die Kanadese wêreldreekstoernooi in Vancouver. Suid-Afrika het ses drieë gedruk en Spanje 38-12 verpletter. Dit was die Blitsbokke se derde titel in vyf toernooie in die huidige seisoen. Snyman sê hy is tevrede met die span se volgehoue spelpeil en die groep se diepte:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-309-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-n-97-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….