Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering se sonpaneel-aansporing verval ondanks oproepe vir ‘n verlenging
# ActionSA dien ‘n amptelike klag by die Menseregtekommissie in teen WesBank
# En tennis: Jannik Sinner skok Novak Djokovic en is deur na sy eerste Grand Slam-eindstryd
# Die regering se sonpaneel-aansporing, wat verlede jaar ingestel is om hernubare energiegebruik te bevorder, sal op 29 Februarie verval. Die aansporing bied ‘n korting van 25-persent tot 15-duisend-rand vir nuwe sonpanele wat teen daardie datum in gebruik is. Ondanks oproepe vir ‘n verlenging en uitbreiding om batterye en omskakelaars in te sluit, het die Nasionale Tesourie voet by stuk gehou en die dringendheid van sonkraginstallasies beklemtoon. Sonkragverskaffers verseker intussen belangstellende huishoudings installasies kan steeds betyds voltooi word, en bied ‘n vaartbelynde proses van kwotasie tot dokumentasie.
# ActionSA sê hy het ‘n amptelike klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien om WesBank te ondersoek na bewerings dat swart kliënte volgens ʼn spesifieke stelsel te veel betaal. WesBank verwerp bewerings van diskriminasie teen kliënte op grond van ras, geslag of ouderdom. ActionSA se woordvoerder, Lerato Ngobeni, sê hulle kan nie die bank se bedekte rassisme verdra nie:
# ʼn Verandering in windrigting belemmer pogings om die Kluitjieskraal-brand naby Wolseley in die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap te beheer. Die brand in die Suurvlakte-gebied het in twee rigtings verdeel: een aan Wolseley se kant van die Obiekwa-berge en nog een aan Wellington se kant. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brand aan Wolseley se kant in die Verrekyker-gebied net bokant Kluitjieskraal het vinnig in die rigting van landbougrond beweeg waar ʼn verskeidenheid strukture soos formele en informele behuising is:
# Namibië se minister van Werke en Vervoer, John Mutorwa, het ontwikkelingsplanne vir die jaar bekend gemaak. Sy woordvoerder, Julius Ngweda, sê dit behels om lenings te bekom van die Suider-Afrika-Ontwikkelingsbank en die Ontwikkelingsbank van Namibië om nuwe stasiewaens te bekom. Daarby is ‘n beleggingslening van 756-miljoen-rand geoormerk om die Katutura-staatshospitaal op te knap. Ngweda sê die planne is daarop gemik om vervoer-infrastruktuur en gesondheidsorg-instellings te verbeter:
# Tennis: Jannik Sinner is deur na die eerste eindstryd van ʼn Grand Slam-toernooi nadat hy die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, in die halfeindstryd van die Australiese Ope verslaan het. Die 22-jarige het die Serwiër met 6-1, 6-2, 6-7, 6-3 verslaan in Melbourne. Sinner kan tot nommer drie op die wêreldranglys opskuif indien hy Sondag sy eerste Grand Slam-titel wen en Daniil Medvedev teen Alexander Zverev verloor in die ander halfendstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-128-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….