Nuus 08:00
BULLETIN 9 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ajatollah Ali Khamenei se seun, Mojtaba, word aangewys as Iran se nuwe opperleier
# Internasionale oliepryse styg namate die VSA-Israelse oorlog met Iran toeneem
# En rugby: Die Blitsbokke word as die kampioene gekroon in Kanada
# Die 88 lede van Iran se bevelsvergadering van geestelike leiers het Mojtaba Khamenei gekies om sy pa, ajatolla Ali Khamenei, as die land se nuwe opperleier op te volg. Die 56-jarige Mojtaba het dekades lank nou saam met sy pa gewerk, wat verlede week in die eerste reeks Israels-Amerikaanse aanvalle dood is. Hy werk ook baie nou saam met Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps. Die geestelikes sê Khamenei is deur ‘n sogenaamde beslissende stem verkies en het Iran se burgers gevra om hom te ondersteun en nasionale eenheid in stand te hou.
# Die Israelies-Amerikaanse oorlog teen Iran het oliepryse wêreldwyd laat styg en die prys van ru-olie vir die eerste keer sedert 2022 tot meer as 100 dollar per vat opgejaag. Minder olietenkskepe kon weens die oorlog deur die Straat van Hormuz vaar, wat een-vyfde van die olie wat wêreldwyd verbruik word en groot hoeveelhede gas vervoer. Die minister van Energie van Amerika, Chris Wright, het aan CNN gesê die styging in energiepryse kan moontlik ‘n paar weke duur, maar nie maande nie:
# ActionSA doen ‘n beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag om dringend sy ondersoek af te sluit na die 2017-klagte teen Paul O’Sullivan, wat verband hou met bewering dat hy hom voorgedoen het as ‘n ondersoekbeampte van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, sê die NVG moet bepaal of die aanklagte herstel moet word, veral na aanleiding van getuienis voor die Ad Hoc-komitee wat dui op ernstige bewerings van wangedrag wat voor ‘n hof getoets moet word:
# Die Madlanga-kommissie sal vandag besluit of die omstrede Noordwes-sakeman en ANC-ondersteuner, Suleiman Carrim, se getuienis in camera aangehoor sal word. Hy getuig vandag en môre voor die kommissie. Carrim se prokureur, Kameel Prehmid, sê sy kliënt is gewaarsku om nie te getuig nie. Talle getuies voor die kommissie beweer Carrim het sy politieke bande gebruik om ’n tender van 360-miljoen-rand van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala, te kry.
# Rugby: Die Blitsbokke het Spanje met 38-12 verslaan om die Vancouver-Sewes in Kanada te wen. Hulle het hierdie seisoen ook in Kaapstad en Australië koning gekraai. Suid-Afrika het in Groep A met Brittanje, Spanje en Nieu-Seeland afgereken. Philip Snyman se manne het Australië in die halfeindronde naelskraaps met 19-12 geklop. Fidji is derde nadat hulle Australië met 29-10 verslaan het. In die vroueafdeling het Nieu-Seeland die Australiërs met 24-17 gewen om die vierde agtereenvolgende jaar in Vancouver as kampioene gekroon te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-273-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-85-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 110-dollar-en-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….