Nuus 06:00
BULLETIN 9 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi verseker die publiek dat sanitêre doekies steeds veilig is om te gebruik
# Die EFF wil ‘n dringende portefeuljekomiteevergadering hê oor die herroep van Volkswagen Polo-voertuie
# En gholf: Dan Bradbury van Engeland wen die Johannesburg Ope vir ‘n tweede keer
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het Suid-Afrikaners verseker dat dit steeds veilig is om sanitêre doekies en broekievoerings te gebruik. Dit volg nadat ‘n onlangse studie deur die Universiteit van die Vrystaat bevind het dat sekere sanitêre doekies en broekievoerings skadelike endokrien-ontwrigtende chemikalieë kan bevat. Motsoaledi het gister in ‘n inligtingsessie met die media gesê die lae vlakke van endokrien-ontwrigtende chemikalieë wat in hierdie produkte voorkom, is nie ‘n nuwe bron van kommer nie en is nie skadelik nie:
# Die EFF het aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging, Mzwandile Masina, geskryf en ‘n dringende spesiale vergadering van die komitee versoek. Muzi Khoza van die EFF sê dis om die terugroeping van ongeveer 25-duisend Volkswagen Polo-weens remverwante tegniese foute, aan te spreek. Die voertuie is tussen Februarie 2025 en Februarie 2026 in Suid-Afrika verkoop. Hy sê die bestaan van ‘n defek oor so ‘n lang tydperk wek ernstige kommer oor regulatoriese toesig, produkgehalteversekering, en of motoriste onwetend voertuie met gevaarlike meganiese defekte bestuur het.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die regerende ANC se binnegevegte het verhoed dat die Sedibeng-distriksmunisipaliteit die voorgeskrewe aanpassingsbegroting betyds aan die raad ter tafel gelê het. Die party sê probleme het ontstaan toe die ANC sy speaker, Moipone Modikeng, en die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Lulama Gamede, uit hul poste verwyder het. Die VF Plus sê ‘n nuwe speaker is nog nie aangestel nie, gevolglik kan raadsvergaderings nie wettiglik voortgaan nie.
# Die polisie in Noorweë sê die ontploffing by die Amerikaanse ambassade in Oslo vroeg Sondagoggend kon ‘n daad van terrorisme gewees het, maar die ondersoek duur voort. Die ontploffing het geringe skade aan die gebou veroorsaak, en daar is geen beserings of sterftes aangemeld nie. Hierdie voorval kom te midde van verhoogde sekuriteit by Amerikaanse ambassades en konsulate wêreldwyd, terwyl die aanvalle tussen die VSA en Israel op Iran steeds toeneem. Noorweë-polisie se ondersoek- en intelligensie-eenheidhoof, Frode Larsen, sê hulle kyk ook na ander moontlike oorsake vir die voorval.
# Gholf: Dan Bradbury van Engeland het sy tweede Johannesburg Ope met een hou gewen en ‘n derde DP World-toertitel by die Houghton Gholfklub verower. Die 26-jarige het was vyf houe agter, maar het ingehaal om die titel op 17 onder baansyfer 65 te verower. Casey Jarvis van Suid-Afrika, wat wou aansluit by die elitegroep met drie agtereenvolgende DP World-toeroorwinnings, het gelykop tweede met Brandon Robinson-Thompson van Engeland geëindig. Bradbury sê hy het nie verwag het om te wen nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-343-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-130-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Congress of the People het aangekondig dat twee gedenkdienste hierdie week vir die oorlede COPE-leier Mosiuoa Lekota gehou sal word. Die een sal Dinsdag in Johannesburg plaasvind en die ander Donderdag in Bloemfontein. Intussen sê voormalige COPE-adjunksekretaris, Deidre Carter, onder Lekota-leierskap het COPE die onteiening van grond sonder vergoeding teengestaan en die reg van gewone Suid-Afrikaners om as onafhanklike kandidate te staan, bevorder, waardeur Suid-Afrika se demokrasie versterk en burgers se regte beskerm word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….