Nuus 11:00
BULLETIN 26 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Naledi Pandor ontmoet die hoofaanklaer van die Internasionale Geregshof voor die uitspraak in die volksmoordsaak teen Israel
# Die African Transformation Movement kritiseer die Reserwebank se rentekoers-besluit te midde van die land se ekonomiese uitdagings
# En rugby, die Blitsbokke skop af met ‘n oorwinning in Perth
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het tydens ‘n amptelike besoek met die Internasionale Geregshof se hoofaanklaer gesprek gevoer. Die hof lewer vandag uitspraak oor Suid-Afrika se versoek vir noodmaatreëls teen Israel, wat hy van volksmoord in Gaza beskuldig. Die beslissing sal nie die hoofbeskuldiging van volksmoord hanteer nie. Die departement se woordvoerder, Clayson Monyela, sê Suid-Afrika glo Israel het die Volksmoordkonvensie oortree:
Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het gister telefonies met Pandor gepraat oor die konflik in Gaza. Hulle het gepraat oor volgehoue humanitêre hulp aan Palestynse burgerlikes, en om vrede in die streek te verseker. Blinken en Pandor het die belangrikheid van die Amerikaans/Suid-Afrikaanse verhouding en samewerking oor gedeelde prioriteite herbevestig.
# Die African Transformation Movement sê hy is bekommerd oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om rentekoerse onveranderd te hou, ten spyte van bemoedigende aanduidings dat verbruikerspryse in Desember die tweede agtereenvolgende maand effens gedaal het. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers onveranderd gelaat op 8,25-persent, met handelsbanke se prima uitleenkoers steeds 11,75-persent. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê dis kommerwekkend dat die Reserwebank weier om landsburgers te help deur die koers verder te verlaag:
# Die Kaapse Forum sê sy Konstitusionele Hof-aansoek het ten doel gehad om premiers te bemagtig om provinsiale referendums uit te roep. Die organisasie het duidelikheid gesoek oor premiers se regsgesag, met verwysing na teenstrydige raadgewing. Die Grondwet laat dit wel toe, maar bestaande wetgewing maak slegs voorsiening vir die president om dit te doen. Die hof het by agt premiers as respondente aangesluit. Met ‘n hangende Wysigingswetsontwerp op die Verkiesingskommissie het die hof die Kaapse Forum se aansoek uitgestel, met voorsiening vir toekomstige verligting indien nodig.
# Rugby: Die kaptein, Selvyn Davids, het twee drieë vir die Blitsbokke gedruk in hulle eerste Groep A-kragmeting in die wêreldreekstoernooi in Perth, Australië, waarin hulle Kanada 24-7 geklop het. Suid-Afrika het goed herstel om te wen nadat hulle vroeg in die wedstryd ‘n drie afgestaan het. David Brits en Tristan Leyds was plaasvervangers in hul debuut vir die Blitsbokke. Die span speel vanmiddag teen Spanje in die laaste kragmeting van die dag voordat hulle die voorloper in die reeks, Argentinië, môre-oggend in hul laaste groepswedstryd pak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-912-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….