Nuus 11:00
BULLETIN 7 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Patrice Motsepe sê hy staan nie vir ANC-president nie
# Iran se VN-gesant sê meer as 1300 Iranse burgerlikes is reeds in die oorlog dood
# En gholf: Brandon Thompson van Engeland lei die Johannesburg Ope
# Die Suid-Afrikaanse miljardêr-sakeleier Patrice Motsepe het gerugte ontken dat hy as kandidaat vir die ANC-presidentspos by die party se nasionale verkiesingskonferensie in 2027 gaan staan. Daar was voorstelle vanuit ANC-kringe dat Motsepe moontlik sy hoed in die ring kan gooi as ‘n kandidaat om sy swaer, Cyril Ramaphosa, te vervang. Motsepe het gister die aandeelhouers van sy maatskappy African Rainbow Minerals toegespreek en die gerugte ontken en gesê dat hy geen idee het waar dit vandaan kom nie:
#Die leier van Rise Mzansi, Songezo Zibi, sê die Parlement moet dringend die tekort aan kapasiteit by universiteite aanspreek. Zibi het tydens ‘n debat in die Nasionale Vergadering gewaarsku dat duisende matrikulante met die vereiste punte nie plekke by universiteite kan bekom nie, wat sommige dwing om programme te volg wat hulle nooit beplan het nie. Hy versoek wetgewers om studenteaansoekprosesse en die beskikbaarheid van dosente te hersien om te verseker dat hoër onderwys studente se toekomstige behoeftes beskerm word.
# Die GOOD-party doen ‘n beroep op die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, om dringend in te gryp met die toenemende bendegeweld in Westbury. Verskeie skietvoorvalle, insluitend die tragiese dood van ‘n kind die week, veroorsaak kommer in ‘n gemeenskap wat lank sukkel met bendes, dwelms en onwettige vuurwapens. Matthew Cook van GOOD sê die stad moet meer as net wetgewing toepas, soos om openbare ruimtes te verbeter, jeugprogramme te ondersteun en hande te vat met plaaslike organisasies om die siklus van geweld te verbreek.
# Iran se VN-ambassadeur Amir Saeid Iravani sê minstens een-duisend-332 Iranse burgerlikes is tot dusver in die konflik met Israel en die VSA dood, en duisende beseer. Iravani het aan media by die VN gesê die VSA en Israel teiken doelbewus burgerlike infrastruktuur, terwyl Iran militêre instansies, nie burgerlikes nie, aanval. In kommentaar op Trump se vroeëre bewering dat Iran se nuwe opperleier “aanvaarbaar moet wees”, het Iravani gesê dit is ‘n duidelike skending van die beginsels van nie-inmenging in die interne sake van state, soos vervat in die Handves van die Verenigde Nasies.
# Gholf: Brandon Robinson Thompson van Engeland begin die derde ronde by Houghton Gholfklub as die gunsteling om te wen in die Johannesburg Ope. Na ‘n sensasionele 62 in die tweede ronde, het die 31-jarige ‘n byna onbetwisbare voorsprong op 12 onder. Suid-Afrika se deelnemers het egter steeds ‘n kans om die agterstand uit te wis. Jayden Schaper is in ‘n sterk posisie op 7 onder na sewe putjies in sy tweede ronde, wat vanoggend voltooi word, terwyl Robin Williams in die spel bly op 2 onder na ‘n bestendige 70 in sy tweede ronde.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, stuur sy beste wense aan die duisende fietsryers en toeskouers wat môre aan vanjaar se Kaapstad-fietstoer deelneem. As ‘n ywerige fietsryer, verstaan hy hoeveel voorbereiding en fokus die wedrendag vereis. Sileku sê die bevordering van fietsry is ‘n groot deel van die Mobiliteitsdepartement se plan vir ‘n inklusiewe en volhoubare vervoerstelsel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….