Nuus 08:00
BULLETIN 7 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die minister van Verdediging se stilswye oor Iran se deelname aan die vlootoefening vererger kommer
# Die DA sê die polisie en SANW se ontplooiing in bendegeteisterde gebiede ontbreek koördinering
# En rugby: ‘n Oorwinning oor Skotland sal vandag ‘n agtereenvolgende Sesnasies-titel vir Frankryk verseker
# Die DA sê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het geweier om te bevestig of president Cyril Ramaphosa Iran se deelname aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se oefening, Will for Peace, goedgekeur het. Die parlementêre vraag kom te midde van diplomatieke en veiligheidskommer oor Iranse vlootvaartuie wat aan die oefening deelgeneem het. Chris Hattingh van die DA sê Motshekga se stilswye laat ernstige vrae ontstaan oor burgerlike toesig oor die weermag en aanspreeklikheid binne die SANW:
# Die DA sê daar is ‘n gebrek aan koördinasie en beplanning tussen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die polisie oor die beplande ontplooiing na bendegeteisterde gemeenskappe. Lisa Schickerling van die DA sê daar blyk geen duidelik uitgelegde gesamentlike operasionele plan te wees wat uiteensit hoe die SAPD en die SANW op die grond sal saamwerk nie:
# Eskom sê sy opwekkingsvloot toon steeds volgehoue verbetering, met die Energie Beskikbaarheidsfaktor wat bo 65-persent bly en tans op 65,31-persent vir die 2025/2026-boekjaar is. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê die opwaartse momentum weerspieël voortdurende vordering in die herstel van kragstasiebetroubaarheid, die versterking van stelselbestendigheid en die bevordering van Eskom se operasionele herstel. Sy sê die opwekkingsvloot het ook die 70-persent EAF-mylpaal by 78 geleenthede die boekjaar bereik of oorskry:
# Israel het gister sy lugaanvalle op Beiroet se suidelike voorstede verskerp, wat die aanslag op Hezbollah vererger het en honderdduisende Libanese uit hul huise gedwing het. ‘n Verslag van die ministerie van Gesondheid plaas die dodetal op meer as 200. Israel het almal in die digbevolkte voorstede, Hezbollah se hoofvesting in die hoofstad, beveel om te ontruim voordat hulle aanvalle van stapel gestuur het. Hy het ook burgerlikes gewaarsku om dele van die suidelike en oostelike Libanon, hartland van die Libanese gewapende Sjiïtiese Moslemgroep, te verlaat.
# En ten slotte sportnuus:
# Krieket: Elk van die 132-duisend sitplekke gaan na verwagting môre gevul wees wanneer die wêreld se grootste sportstadion, die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad, die T20-Wêreldbekereindstryd tussen die medegasheer, Indië, en Nieu-Seeland aanbied. Indië het deurgedring danksy ‘n naelbyt-oorwinning oor England in Wankhede, terwyl die Swarttpette Suid-Afrika met nege paaltjies afgeransel het in Kolkata. Nieu-Seeland se aanvangskolwer, Finn Allen, word beskou as die gevaarman vir Indië na sy honderdtal van net 33 balle teen die Proteas.
# En rugby: Frankryk kan reeds vandag ‘n agtereenvolgende Sesnasies-titel beklink met ‘n ronde oor, as hy Skotland in Edinburgh verslaan. Hulle is reeds vier punte voor die Skotte boaan die punteleer en nog ‘n oorwinning sal hulle die kroon laat behou. Frankryk het reeds met Ierland, Wallis en Italië afgereken en as hy vandag wen, sal volgende naweek se wedstryd teen Engeland in die laaste ronde geen invloed hê op die titelwedloop nie. Italië verwelkom Engeland op die Stadio Olimpico in Rome in vandag se ander kragmeting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….