Nuus 07:00
BULLETIN 7 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika spreek sy ernstige kommer uit oor die toenemende krisis in die Golf
# ‘n Ekonoom waarsku die Midde-Oosterse krisis kan brandstofpryse tot rekordvlakke dryf
# En rugby: Die Blitsbokke is vasbeslote om hul goeie spelpeil in Vancouver te handhaaf
# Suid-Afrika het ernstige kommer uitgespreek oor die toenemende oorlogskrisis in die Golf. Die woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê hoewel Iran die reg het om homself te verdedig teen die state wat gewapende aanvalle teen hom gepleeg het, is die optrede teen die groep van ses Arabiese state, bekend as die Golf-samewerkingsraad, ‘n skending van die VN-Handves. Hy het bygevoeg dat dit die risiko van breër streekskonflik verhoog:
# Die ekonoom van Everest Wealth, Thys van Zyl sê intussen die Midde-Oosterse konflik skep nuwe risiko’s vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Stygende oliepryse en ontwrigtings deur die Straat van Hormuz kan brandstof-, vervoer- en voedselkoste verhoog, terwyl die wisselvalligheid van die rand kan toeneem. Van Zyl waarsku langdurige onbestendigheid kan inflasionêre druk verhoog en die Suid-Afrikaanse Reserwebank se vermoë om rentekoerse te verlaag, beperk. Hy dring aan op beleidsekerheid en diplomasie terwyl wêreldwye spanning Suid-Afrika se groei en bestendigheid kan bedreig.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sal vandag ‘n massa-inentingsveldtog teen bek-en-klouseer in Gauteng lei. Die veldtog, saam met die LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, is gemik om vee te beskerm, boere te ondersteun en voedselsekerheid te verseker. Steenhuisen het die samewerking van die regering en die privaat sektor beklemtoon om die hoogs aansteeklike siekte te bekamp en verliese in die landbousektor te verminder:
# Die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n senior polisiebeampte in Mthatha in die Oos-Kaap in hegtenis geneem vir die beweerde wanbesteding van 60-duisend-720-rand in staatsfondse by die polisie-akademie. Luitenant-kolonel Bidla het Donderdag vlugtig in die Mthatha Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn en is op borgtog van vyf-duisend-rand vrygelaat. Die saak is tot 24 Maart uitgestel vir regsverteenwoordiging, terwyl die ondersoek na die diefstal voortduur.
# Rugby: Die sewes-Springbokke se afrigter, Philip Snyman, sê sy groep glo hulle kan hullel goeie spelpeil volhou en goeie uitslae behaal in die naweek se wêreldreekstoernooi in Vancouver, Kanada. Hy sê hy het ‘n sterk, ervare span, het goed voorberei en hoop op ‘n goeie naweek. Suid-Afrika pak Nieu-Seeland, Spanje en Groot-Brittanje in Groep A. Hulle eerste kragmeting teen die Britte skop vanaand 10-uur Suid-Afrikaanse tyd af.
# En ten slotte: Kaapstad is aangewys as Beste LGBTQ-plus-stadbestemming by vanjaar se Spartacus-reistoekennings in Berlyn, Duitsland. Die toekenning erken stede wat gelykheid, diversiteit en inklusiewe reiservarings bevorder. Briony Brookes, hoofbemarkingsbeampte van Kaapstad Toerisme, sê die toekenning beklemtoon die stad se verwelkomende ruimtes, lewendige gay-gemeenskap en toewyding om alle besoekers welkom en veilig te laat voel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….