Nuus 17:00
BULLETIN 6 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# LP’s sê Motshekga se afwesigheid in Parlement weerspieël weerspannigheid
# Die DA weier om sy Lesufi-reklamebord te verwyder
# En, Trump dank sy minister van Binnelandse Veiligheid, Kristi Noem, af
# Lede van die Parlement se Gesamentlike Staande Komitee oor Verdediging het die minister van Verdediging, Angie Motshekga, van weerspannigheid beskuldig. Dit volg nadat sy nie ‘n geskeduleerde vergadering bygewoon het oor hoe gereed die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is om die polisie te help met die bekamping van misdaad en bendegeweld nie. President Cyril Ramaphosa het die ontplooiing tydens sy Staatsrede aangekondig. Carl Niehaus van die EFF sê Motshekga se herhaalde afwesigheid ondermyn parlementêre toesig en verantwoordbaarheid:
Met verwysing na die ontplooiing van die Weermag om misdaad te beveg, het die waarnemende sekretaris van Verdediging, Thobekile Gamede, die parlement meegedeel die ontplooiing van die Weermag, na raming 823-miljoen-rand sal kos. Datums vir die ontplooiing en die finalisering van begrotings bly hangende, met koördineringsvergaderings wat binnekort verwag word. Die Parlementêre Gesamentlike Staande Komitee oor Verdediging sê terwyl voorbereidings aan die gang is vir gesamentlike operasies met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het hulle kommer uitgespreek dat planne nie ten volle belyn is nie.
# Die DA sê hy sal nie ‘n omstrede advertensiebord verwyder waarop Panyaza Lesufi uitgebeeld word waar hy, ten volle geklee, stort nie. Die ANC het geëis dat die advertensiebord binne 12-ure verwyder word. Die DA se voorsitter van die federal raad, Helen Zille, het aan SABC News gesê die party hou by die advertensie aangesien dit Lesufi se reaksie rondom inwoners wat watertekorte en breër gemeenskapsprobleme in Gauteng moet trotseer, beklemtoon:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die minister van Binnelandse Veiligheid, Kristi Noem, afgedank en verskuif na ‘n nuwe pos as spesiale gesant vir ‘n nuwe Amerikaanse veiligheidsprojek in die Westerse halfrond, die Skild van die Amerikas. Sy het onlangs onder skoot gekom oor haar reaksie op die noodlottige skietery van twee Amerikaanse burgers deur federale beamptes in Minneapolis. Trump het die senator van Oklahoma, Markwayne Mullin, aangewys as nuwe minister vanaf die einde van die maand. Sy aanstelling moet nog deur die Senaat bevestig word.
# Tennis: Die wêreld se voorste twee spelers, Carlos Alcaraz van Spanje en die Italianer Jannik Sinner, hervat môre hul wedywering in Amerika wanneer hulle hul eerste wedstryde in die Indian Wells-meesterstoernooi speel. Albei het ‘n loslootjie gehad vir die eerste ronde. Alcaraz pak die Bulgaarse veteraan Grigor Dimitrov in die ronde van 64, terwyl Sinner die Tsjeggiese speler Dalibor Svrcina sal aanvat. Alcaraz het die seisoen goed afgeskop en die Australiese Ope en die Katarse Ope gewen, terwyl Sinner op albei toernooie voor die eindstryd uitgeskakel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-41-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-71-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 86-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….