Nuus 09:00
BULLETIN 6 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê Vincent Smith se vonnis weerspieël die toewyding aan die stryd teen korrupsie
# Die WGO bevestig 13 aanvalle op Iran se gesondheid-infrastruktuur tydens die Amerikaans-Israelse aanslag
# En motorsport: Lando Norris is honger vir nog welslae na hy die Formule Een-kampioenskap gewen het
# Die regering sê die oudparlementslid Vincent Smith se vonnis weerspieël die toewyding om die stryd teen korrupsie te verskerp en seker te maak diegene wat staatshulpbronne misbruik, word aanspreeklik gehou. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Smith tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir onder meer bedrog en korrupsie in verband met gunslone van BOSASA. Die regering sê die instelling van die Zondo-kommissie se aanbevelings, asook ander ondersoekkommissies, is ’n belangrike stap om demokratiese instellings te versterk en integriteit in die regering te herstel.
# Die DA het president Cyril Ramaphosa gevra dat die Spesiale Ondersoekeenheid moet kyk na die aanstelling van die sekretaris in die Parlement, Xolile George, sy buitensporige salaris en vermeende onregmatige betalings tydens 2023 se BRICS Parlementêre Forum. Sy salaris het volgens berigte binne slegs 17 maande van sowat 2,6-miljoen- tot 4,9-miljoen-rand toegeneem. DA-woordvoerder Rikus Badenhorst sê hulle het ook ’n klagte by die Openbare Beskermer ingedien:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, beklemtoon die belangrikheid van voortgesette belegging in water-infrastruktuur en langtermynbeplanning. Dit volg terwyl verskeie munisipaliteite deurloop onder voortslepende uitdagings wat watersekerheid betref. Winde sê sommige gebiede soos Swellendam en Laingsburg het die afgelope dae goeie reën gehad, maar munisipaliteite word steeds aangemoedig om waterbesparings-maatreëls te verskerp. Hy sê die provinsie se Waterveerkragtigheid-strategie word in alle munisipaliteite ingestel:
# Die Wêreldgesondheids-organisasie sê meer as ‘n duisend mense is dood in die toenemende konflik in die Midde-Ooste. Meer as 100-duisend mense is ontwortel en 16 lande word geraak. Werksaamhede is tans gestaak by die W-G-O se logistieke hoofkantoor vir globale gesondheids-noodgevalle in Dubai. Direkteur-generaal Tedros Ghebreyesus sê hulle het 13 Amerikaans-Israelse aanvalle op Iran se gesondheids-infrastruktuur bevestig en een in Libanon. Hy sê ses gesondheidswerkers is dood en 25 beseer:
# Motorsport: Die Formule Een-wêreldkampioen, Lando Norris, is steeds honger vir meer sukses wanneer die nuwe seisoen die naweek in Melbourne, Australië, begin. McLaren se 26-jarige Britse renjaer sê die oorwinning in verlede seisoen se kampioenskap het nie sy werksetiek of begeerte om die beste te wees, verander nie. Norris het verlede jaar se Australiese Grand Prix gewen nadat hy voor weggespring het. Die span is nie besonder beïndruk met hul motors se werkverrigting in voorseisoense toetse nie, terwyl spanhoof Andrea Stella glo hulle is agter Ferrari en Mercedes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-842-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-129-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….